Vanoggend (lees 12:17) is ek wreed wakkergebel deur ‘n gatkruiperige dame van Ou Mutual. (Sotto stem: “Sirrah, would you like to be interested in some policies?”) Ek kon haar nie sien nie, maar dink sy’t soos een van daai straathoekstanende verkeersligmense gelyk wat obskure pamflette by jou neus opforseer wanneer jy dit die minste verwag. My stembande het haar aanbod beneweld van die hand gewys; ek het my retinas van data verskaf en vaak in die gang afgestrompel.
Dit het my seker 'n goeie twee minute geneem om te besef dat die badkamerlig nie stukkend is nie, maar bloot vervang is met 'n meer ekonomiese, fluorescent-gloeilamp. Klaarblyklik luister my ouers as Eskom praat. Die situasie het haar voordele; ek het nou baie tyd om te besin oor wat ek in 'n betrokke vertrek wil aanvang voordat ek dit binnegaan. (Hierdie bl0g-inskrywing is die direkte gevolg van die stortlig se versuim om te begin lewe.)