Hmm…dalk moes ek 'n meer opwindende tyd as die einde van my eksamen kies om 'n blog te begin. (Of dan “blob,” soos 'n baie spesiale meisie dit noem.) Ek het vandag die volgende opspraakwekkende dinge aangevang:
1. Nartjies gegobbel
2. Te veel kitaar gespeel
3. Twintig minute van 'n meelsierige film saam met my suster gekyk
4. Met hierdie lieflike blob(sic) gepeuter.
My pa het sopas hier ingewaggel met 'n stuk sjokoladekoek, waaraan ek nou sit en peusel. Ek luister na die sagte gesuis van my rekenaar se fans en giggel vir die universiteit se pretensieuse poging om Jeugdag te vier. Hierbenewens staar ek van tyd tot tyd vervaard na die titaniese massa nartjieskille in die hoek van my lessenaar. Ek dink dit het 'n bewussyn ontwikkel…