‘n Televisie-advertensie het my vanoggend oortuig om vandag my ou skooldas te dra, ter nagedagtenis aan diegene wat gesterf het tydens die destydse debakel oor skoolonderrig in Afrikaans. Dit, gepaard met ‘n berig in vandag se Burger, het my vir 'n paar oomblikke met heimwee laat terugdink aan my skooldae. Ek wil dit nou nie juis gaan staan en herhaal nie, maar daar dryf nogtans 'n hele paar goeie herinneringe van my sekondêre onderrigfase in my geheue rond.
Een van die prettige akwititeite waarmee ek en 'n paar vriende onsself mee besig gehou het, was die onderlangse gepluk van mekaar se dasse. (Ons het ook gereeld ander skoliere natgespuit met groot, rooi brandslange, maar dis 'n ander storie.) Die bostaande foto wys hoe Walter Cloete (regs) en die legendariese Christiaan Brand (nie regs nie) sake uitspook vir totale das-dominasie.
Wat my laat wonder: kan die regering nie eerder 16 Junie as nasionale Dastrekdag verklaar nie? Dit sal soveel meer vir ons land se ekonomie beteken as die massale hoop toesprake wat jaarliks op Jeugdag gelewer word. Ek meen, dis nie asof die mense wakkerbly tydens regeringsamptenare se voorgeleesde betoë nie en tyd, soos ons almal weet, is geld. Waar het jy nou al iemand gesien wat bewus is van tyd terwyl hy droom? Hmm?