Postmoderne Essay oor Pana[v]rottis

panavrotties.jpg

Groot winkelsentrums is soos universiteitskoshuise: daar brand altyd ligte, dit raas en by tye word daar vreemde kos aan jou voorgesit. My liefste moeder het onlangs verjaar en die hele gesin is pens en pootjies Tygervallei toe om aan vreemde disse te gaan smul; ons het opgeëndig by 'n oulike restaurantjie genaamd Ziggies, waar ek onder andere 'n titaniese burger met obskure aartappelblokkies verorber het.

Skuins oorkant die neonligte en die losgemaal van laataand-rugbyhoogtepunte op Tygervallei se televisieskerms, het 'n vuilgroen pizzeria skielik my oog gevang. Panarottis. Skielik het my burger nie meer so lekker geproe nie.

Twee jaar gelede, tydens die Junievakansie, het ek niksvermoedend by die einste vreetplek ingehuppel en 'n vriendelike tannie gevra of sy dalk vir my 'n vakansiewerk het. Sy het instemmend geantwoord en my 'n spyskaart in die hand gestop, wat ek moes memoriseer. (Ek moes snuf in die neus kry toe sy direk daarna in die algemene rigting van 'n kelner geswets het, maar ek het verkoue gehad.)

Ek het die werk gekry en dit was aaklig. Die kelners het sulke brongiale nikotiendampe gehad wat heeldag soos voorskote om hulle gehang het, die eienaar was lief daarvoor om geslagsdele op te noem en vir 'n wyle was daar 'n knaagdierplaag in die kombuis. Na net 'n week is ek summier afgedank: ek het glo elke aand geld uit die kasregister gesteel. (Die ander vent wat met die geldlaai gewerk het, en op trou gestaan het met 'n swanger meisie, was glo baie betroubaar.)

Wat my by die pragmatiese slotsom en uiteindelike punt van hierdie uitmuntende essay bring: knaag meer kaas in 'n fetale posisie. Dis niks meer as goed vir jou nie.

This entry was posted in Sommer and tagged , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>