Nou ja, die toer is agter die rug. Ek het al my snare behou, 'n paar pynlike wonde op my vingerpunte opgedoen en baie kerrie en rys geëet.
Dis skreeusnaaks hoe geloofspolitiek in klein, Suid-Afrikaanse dorpies werk. As NGK-lidmate in stedelike gebiede begin dors na groener weivelde, ruk hulle bloot tentpenne (tabernakeltoue?) uit en beweeg na 'n meer charismatiese skaapkraal.
In klein dorpies (dink Queenstown, Bethlehem, Ficksburg) werk dit egter anders. Ledemate vernuwe eerder die betrokke gemeente self. Die stoere gesloer van orreliste word vervang met 'n meesleurende gebrul wat weekliks by digitale projektors en massale luidsprekers uitpeul. (Heel antropomorfisties huldig ek natuurlik die oortuiging dat God beide toondoof en kleurblind is, maar soms wonder ek of sy ore nie seerkry nie.)
Hoe dit ook al sy, dis vir my snaaks omdat bogenoemde vernuwings gewoonlik gepaard gaan met die saamstel van 'n band…en op binnelandse dorpies bestaan laasgenoemde uit ouer garde.
Ou tannies wat headbang…lieflik…