Iewers gaan 'n vulkaan sneeu kraam – ek was vanoggend by my 08:00-klas. Alhoewel ek soos 'n lappop gevoel het wat met 'n lamppaal gefoeter is, is ek bly ek het vroeg opgestaan; benewens die waardevolle tutoriaal oor Van Wyk Louw se poësie het ek die geleenthed gekry om 'n stukkie van die twisted ironie te beleef wat soms kop uitsteek in hierdie wêreld.
Ek moes ná my klasse hardloop na 'n vergadering met die Departement Sielkunde, in verband met een van die video’s waaraan ek en Henno binnekort begin skiet. Oppad soontoe hardloop ek toe trompop in 'n bergie vas, wat my terstond van al sy skete begin vertel. Na 'n indrukwekkende betoog het hy al sy moed bymekaargeskraap om geld te vra, afgekyk na my voete en toe skielik verontwaardig uitgeroep: “Nee Jirre, jy dra dan nie eers skoene nie!” Hy’s weg voordat ek sy naam kon vra.
Moral of the story? As jy nie 'n voorliefde vir bedelaars het nie, hardloop kaalvoet na vergaderings.