Ek het 'n ou Huisgenoot in my pa se studeerkamer ontdek. Dit dateer uit 1959, is swart en wit and has Afrikaner-nationalism written all over it. (Kyk – satiriese kodewisseling.) My retinas is dadelik gevange geneem deur 'n groot verskeidenheid advertensies, wat alles van motoronderdele tot stamselle aan die vorige regime probeer verkwansel het. Ek het 'n paar ingescan en opgeknap vir die leesgenot van Afrikane oraloor…
1. Hierdie advertensie maak voorbrand vir Dr. Heinz se magiese senuweeversterkers. Die pille kalmeer jou nie net nie, maar herstel ook die hele senuweestelsel en doen wonders vir beskadigde breinweefsel. (As Stephen Hawking destyds hiervan geweet het, het ons dalk vandag toilet toe geteleport en bok-bok gespeel in ander dimensies.)
2. Ford het my getroef met dié vernuftige stukkie reklamewerk. Ek het my motor se radio aangesit, ingeskakel op RSG en hard geluister of hulle my nie wil vertel wat Lourence Marques Radio se frekwensie is nie. Hulle wou nie. Maar ten minste het ek die geleentheid gekry om 'n oulike spotprent met my kop te laat smokkel. En sinne met “maar” en “en” te laat begin.
3. Ek is nie seker of Fruitros tablette nog in omloop is nie en ek weet nie hoe 'n “aangepakte tong” lyk nie. Hierdie advertensie is egter my gunsteling, omdat dit lesers se aandag met 'n eenvoudige, dog gelaaide, vraag trek. Glad nie 'n gatslag vir die advertensiewese nie.