“BINNE DIE POSTMODERNE hok van kapitalisme waarin ons vandag lewe, is musikante niks meer as produkte nie. Patricia Lewis is 'n produk. Jurie Els is 'n produk. Hel, op hierdie oomblik is selfs Jesus 'n produk. Die dilemma waarmee ons as kunstenaars (of dan eerder produkte) sit, is dat ons mense benodig om ons
as’ t ware te “aanbid” om aan die lewe te bly. Mense moet dink jy is die coolste ding sedert sweep picking. Die feit van die saak bly egter: jy is nie. Ek is ook nie. So ook nie Steve Hoffmeyer nie. Ons is almal net mense en daar is geen rasionele verskil tussen ons en die sogenaamde “luisteraarspubliek” nie.
Sodra ek, jy of Steve 'n “entertainer” afkraak, verbreek ons die illusie dat 'n kunstenaar ubercool is en skop ons 'n gat oop in die komplekse simulacra van reklame. (Gaan lees 'n bietjie Baudrillard as jy die kans kry.) Deur die arme vent wat covers jodel af te kraak, breek jy vir 'n klein rukkie die leuen af wat ALLE kunstenaars aan die lewe hou – dat ons “kuns” belangrik is.
Dit is nie. In Suid-Afrika sterf mense daagliks as gevolg van VIGS, hongersnood en geweld…en ons laat gemanipuleerde frekwensies by luidsprekers uitpeul. Behalwe as jy my kan oortuig dat klank 'n vernietigende uitwerking op virusse het, sal jy moet erken dat dit wat ons doen eintlik inherent nutteloos is. L’art pour l’art’, as jy wil. (Hiermee sê ek natuurlik glad nie dat dit waardeloos is nie. Inteendeel.)
Jy staan dus elke dag voor 'n keuse – kla (met reg, moet ek jou toegee, veral oor daai vent wat jodel) oor die kwaliteit van Suid-Afrikaanse “musiek” of bewaar die huidige status quo wat jou en talle ander aan die lewe hou.”
- Swarts, JJ. 2006. <Werner Muller – Die Suid-Afrikaanse musiekbedryf>
