
“Die droom,” gil Francois van Coke oor jou luidsprekers, “het 'n nagmerrie geword.” Jy maak jou kamer aan die kant, gooi die vuilgoeddrommetjie uit en plak die nageboorte van 'n opstel oor Sheila Cussons tussen jou en jou buurman se kamerdeure. Die lae dunk van dekonstruksie wat in jou harspan ronddobber, forseer 'n filosofievraestel met wondergom teen die kleedkamerspieël vas. Tussendeur voer jou maag lusteloos oorlog met wat dit ook al is wat jou verhoed om te eet en probeer jy alles wat jy voel wegblaas met musiek wat dowes in hulle graf laat omdraai.