Ek was vandag in elke Stellenbosse boekwinkel onder die son, op soek na 'n kopie van The Second Sex. Niemand het dit nie. (Almal het wel verskeie eksemplare van Die Son. En een van die till-tannies het blosend gedink dat ek na 'n seksteks soek. “Ons…eh…het daai Kamasutra in voorraad?”)
Ek benodig die (dik) boek vir 'n essay vir Filosofie 354, wat volgende Vrydag ingehandig moet word. Hiermee saam moet ek 'n opdrag vir Dekonstruksie ingee, waarin ek enige sinvolle teks stelselmatig dekonstrueer totdat dit soos 'n budgie in 'n blender lyk. Ek is lus om my skoollied te dekonstrueer, maar weet nie werklik of ek tien bladsye daaroor sal kan volskryf nie…
Waar Tafelberg sy skadu’s werp van kruine groots en skerp,
Aan Kaapse Vlak se noordergrens – die vrug van hartewens
Pryk stewig soos 'n vaste rots ons Alma Mater trots,
Waar opgelei word in Sy krag die jeug vir nageslag.Koor: Die Bellville Hoërskool wil trag
Met woord en daad en in gedrag
By werk en spel van dag tot dag,
Sy plig te doen met 'n vrolik’ lag,
Sy plig te doen met al sy mag.
(Ek gaan vanaand weer na Slaghuis kyk. Vet pret.)