Ek sit op 'n basterwit stoel in 'n spierwit saal en staar na Jesus se kroon wat sy hande swaai. Hy’s wit. Agter hom slaap vuilwit skerms in steriele drome van wit geraas; Blank, bloubelynde papier drink lusteloos tee terwyl brose koppies verveelde lippe met koffie irriteer en hy stadig (volstoom) teem en teem en teem en dames in wit Hermeneutiek [swartgallig] laat laat slaap. Grafies sit jy dus en grou waar Calviniste nie durf grawe nie (wriemel herhaaldelik krampagtig vir die soveelste keer) voor jy weer begin gil van plesier (dankie) die kamera draai om (jou kop draai) sluk jou gulsig heel in en uit en in en uit pure ekstase word jou lyf leep-oog kom jy alles oor wat jou nie toekom nie huil jy vuil en betaald glimlag jy vervaard vir die groot tevrede onbekende Jan Rap en sterf jy nog 'n klein dood. Cantus firmus kantel jy in my kop in en word jy 'n pilaar waarteen my retina’s hygend steun wanneer hulle nie soos geskokte fetusse lê en huil nie. (Dit het alles begin toe ons daardie vervlakste bottel naartjiesap probeer oopdraai het. Jou hande het vrugteloos met die prop gesukkel en ons moes 'n vatdoek gebruik om die sitrusdruppels teen jou pupille te laat skiet. My oogkaste het geskrik; vir weke daarna was daar groewe in jou vingers, so asof ek met hulle probeer kitaarspeel het.) Toe sleep die parkeerwag sy fiets verby my soos 'n dooie worshond aan 'n leiband. En daarom is God (baie soos die internet) 'n matriarg. Sy voed ons met Haar melkterte (haar koperpanne ewig vol), sing wiegeliedjies en proe soms soos Herderspastei. (Sela, prewel Sy en seën haar kroos met lemonade en pampoenpoffertjies.) En wanneer Sy kwaad raak voeter Sy die kombuistafel om. Heil Haar, ewig, heil Haar en eet van die opperste Melktert wat weet wat weet wat weet wat.
© Johan Swarts 2006
(As bogenaamde woorde jou laat raai dat ek besig is om my portefeulje vir Kreatiewe Skryfkunde uit te sorteer en dat ek, weens 'n berg akademie, glad nie gaan bl0g vir die volgende paar dae nie en dat hierdie sin nou reeds besonder lank is, verdien jy Kaapse klopse op jou skouers en 'n goue ster neffens die weerbarstige krul op jou voorhoof.)