“Hierdie blog ding gaan oorwaai. Dis 'n fad, nes Britney Spears en die Ninja Turtles. Ek meen, dis 'n klomp mense wat mekaar vertel wat hulle die dag geëet het. En hoe hulle rûe pyn. Dis pointless!”
Sy mag dalk oordryf, maar Marna (goeie vriendin en klasmaat) het dalk 'n punt beet. Van al die dinge waaroor ek kan blog – die kortfilm waarin ek onlangs my lyf akteur gehou het, die Fokofpolisiekar CD-launch, die mot wat sopas op my skerm kom sit het – gaan hierdie inskrywing oor kos.

Ek het vanaand vir die eerste keer in my lewe 'n Twinkie geëet. Ooit. Sy was op die onderste rak van 'n kettingwinkel se kasregister; ek het haar plastiek afgestroop en sy was vol goedkoop, industriële sjokoladevulsel. ‘Het effens soos nat brood geproe. Ons praat nie meer nie. Toe ek terug in my kar geklim het, het ek gewonder waaroor al die bohaai gaan. En toe besef ek: Twinkies is soos blogs. Die goed is overrated.