Verby die gidstannie met die blinde hond. Verby die huis waar koerante my altyd afgelewer het en ek bang was vir die oom met die vriendelike glimlag. Verby die laan vol bome, af in die pad, oor die stopstraat waarby ek nooit stop nie en wieldiep in die vroegmiddagverkeer. My selfoon luier, die kar lui. Iemand probeer die vingers met slaap uit my oë vee.
“Hallo?”
“Waar is jy?!?”
Gramskap en lyding.
“Amper daar, ek belowe. Sorrie.”
Twintig minute later sit en bespiegel ons hoekom die kelners bang is om 'n oom (wat soos 'n tannie aangetrek is) in die hoekie van die koffiewinkel te bedien. Dit moet die lipstiffie wees, besluit ons en peper my Ierse koffie met bruinsuiker. “Hestie het my van hom vertel” eksegeer Beate. “Sy’t hier gewerk. Hy woon in Tygervallei en probeer sy boek aan mense verkoop.” Die alkohol in my koffie lyk soos 'n olievlek.
“Ek het jou gesê dit gaan sleg wees.”
Nog suiker.
“Ek is nie meer verlief op Pierre nie.”
Gramskap en lyding.