Toe mondelinge hoogmode was en ek standerd ses, het my Engelse onderwyseres ons beveel om 'n song analysis voor te berei. Elke leerling moes 'n liriek aan die klas kom voorlê, uitlê en dan gaan platlê vir didaktiese kommentaar.
Ek het myself in die vreemde posisie bevind dat ek nie werklik liedjies geken het nie.
Anders as meeste ander kinders het my ouers my grootgemaak op die maat van niks. Terwyl sommiges vervel het saam met “Elvis en die Briels”, “Annelie van Rooyen” of (God behoede ons) “Die Dordtse leerreëls”, is ek van kleins af gespeen om vir myself te dink en potte met lepels te voeter. 'n Musikale tabula rasa met melktande.
Terwyl my klasmaats dus die hele week lank verduidelik het hoekom hierdie of daardie liedjie hulle tienerangs en nyd vir hulle ouers se musiek volmaak verwoord, het ek benulloos gesit en wonder wat ek in die CD-speler, wat onheilspellend langs die tru-projektor voor die swartbord gestaan het, kon prop. Ek het nie werklik 'n gunsteling musiekgroep gehad nie – het nog steeds nie. Tog, in al my benulloosheid oor populêre kultuur, het ek kennis gedra van een band:
Ek kan nie mooi onthou hoekom ek van hulle begin hou het nie, alhoewel ek dink dat dit iets met Noodles se hare te doen gehad het. Ek, Neil, Johnny en Walter (wat almal in die hoek gesit en een keer brood in Piero se handboek gedruk het) het dus elkeen 'n Offspring-nommertjie geanaliseer, tot groot misnoë van ons onderwyseres. (Suiwer geraas, kon ek dit in haar oë lees, wat nie so lekker akkordeer met Liquido, Celine Dion en die Venga Boys nie.)
Skaam dog vasbeslote, met 'n gesig wat nie lekker geweet het wat om met homself aan te vang nie, het ek hulle vyfde album (geleen by John Murry) in die CD-speler gedruk en myself laat gaan oor The Kids Aren’t Allright. Die indrukwekkende betoog wat ek die vorige aand in my bed voorberei het, (ek het nooit mondelinge neergeskryf nie) het natuurlik glad nie uitgekom soos beplan nie. Een aand moes ek ook 'n droom oor die New Critics had, want my analise is reël vir reël afgehandel. Rigied verby. My kommentaar was iets soos:
“Thank you, Johan. Very…eh…systematically. Who’s next?”
(Die onderwyseres ter sprake het my 'n paar weke daarna vertel dat haar man daardie einste album besit. Sy’t 'n lewende urban legend geraak tussen my en Mai-Li – dié Engelse onnie wat kwansuis met 'n punkrocker getrou het.)
Nou, agt jaar na my stotterende betoog, is The Offspring besig om hulle agste album sedert 1984 op te neem. Bands kom en gaan, maar hierdie kêrels bly aan die gang met hulle nonchalante sosiale kommentaar, eenvoudige kitaarpartye en, les bes, supercool hare.
Ek kan nie wag om die negende een te hoor nie.