Chimeries generies (My kingdom for a voorlaaier)

Welkom! As dit die eerste keer is wat jy hierdie blog raakloop en jy hou waarvan jy lees, oorweeg dit gerus om by my RSS-voer in te teken. Volg my gerus ook op Twitter. Dankie vir jou besoek!

Ek het ‘n problem. Saddam Hoessein is dood en die video van sy teregstelling is vrylik op die internet beskikbaar. Met die klik van ‘n knoppie (dertien, eintlik – ek het getel) kan klein kindertjies nou kyk hoe ‘n man stuiptrek terwyl hy aan sy strot rondswaai. Kommerwekkend?

Dalk. Dis immers iemand wat doodgemaak word. Tog sou ek reken dat die Afrikaanse jeug veel meer opgewasse is hierteen as enige ander generasie in die wêreld, want in hierdie land het ons ‘n verskynsel wat ‘n mens so kan afstomp dat niks jou meer ontstel nie. “Is dit Sewende Laan?” wonder jy dalk nou, terwyl jy vervaard in jou neus krap. “Is dit die Zoeloe First Fruits Festival?” Nee.

Dis die Afrikaanse musiekvideo.

Die Afrikaanse musiekbedryf het nog nooit behoorlik die visuele kloutjie by die oor gekry nie. Trouens, dit woon in ‘n grot. Hier en daar steek klein wonderwerkies – intelligente beelddraaiboek, goeie kamerawerk, vernuftige editing – soms kop uit. (Fokofpolisiekar en Bok van Blerk het byvoorbeeld videos waartydens die kamera…ja, wag hiervoor…beweeg.) Die oorgrote meerderheid van die goed is egter só verbeeldingloos dat dit ‘n kettingbrief soos Raka laat lyk.

As argetipe vir hierdie soort kykmarteling is daar onder meer die stereotiepe Jurie Els-musiekvideo, waartydens ‘n vermaakkunstenaar iewers sit en sing met ‘n breë glimlag op sy of haar gesig. Klaarblyklik is hulle altyd gelukkig. (Behalwe as die liedjie hartseer is, dan word borskaste geslaan en boyband-uitdrukkings van verlange genuttig.) Dan – en dit is die punt waar ek gewoonlik spontaan begin opgooi – word daar gewoonlik beeldmateriaal van wolke, natuurtonele of terugflitse uit die verlede vertoon. Gelyktydig. Klaarblyklik is dit ‘n groot prestasie om twee videostreams oormekaar te sleep in ‘n editor en die een se opacity te stel.

Aan die ander kant van die vomeerspektrum is daar die kunstenaar en sy of haar akoestiese kitaar wat op letterlik enige plek onder die son kan staan en “speel.” ‘n Verlate skrootwerf? Die kunstenaar is daar. Die parkie om die hoek? Daar gedy die kunstenaar. ‘n Rugbyveld? Sê net: “mes”. Altyd met die misbruikte tokkelmasjien – so asof dit ‘n magiese allure van musikaliteit aan die individu verleen. Asof die vervaardigers van die video probeer sê: “kyk – ons kunstenaar sing nié met ‘n backtrack nie. Sy’s avant-garde, jy weet. Baie avant-garde.” (‘n Variasie op laasgenoemde is gewoonlik ‘n kunstenaar wat in die middel van ‘n verlate pad dans. Want dis lekker.)

Les bes (hierdie een is ‘n universele tendens) is daar die uitbuiting van groot oop ruimtes. Om die een of ander rede is dit besonder funky om met jou hele band in ‘n dorre plaasomgewing te staan en jou instrument in enkelvoudige vierslagmaat te voeter. (Volgens verskeie lirieke is dit ook die bakermat van alles Afrikaans. My kingdom for a voorlaaier?)

Ek het nie ‘n probleem met akoestiese kitare nie. Tewens, ek besit twee. Ek het nie eers ‘n probleem met iemand wat met ‘n oordosis grimering (in Patricia Lewis en kie se geval, cleavage wat “toevallig” vanuit ‘n lae hals vir jou loer) tussen waserige beeldmateriaal sit en mymer nie. Laat hulle danspassies uitvoer en hulle koppe swaai – laat hulle in groot kolligte maak asof fonemiese parafrases ‘n eteriese betekenis het waarvan slegs hulle weet. Hel, laat hulle kitaarspeel in plattelandse murasies. Dis passé, maar dis OK.

As die beeldmateriaal maar net funksioneel en aanvullend tot die musiek kon wees.

‘n Liedjie het verskeie aspekte wat visueel uitgebeeld kan word. Dinamiek. Tempo. Lirieke. Afrikaanse musiekvideos laat dit meestal na om enigiets hiermee te doen. Skakel MK89 aan en kyk vir jouself: die meeste musiekvideos bevat footage just for the sake of having footage. Bands in donker ateljees. Bands met Billabong t-hemde. (WTF?) Swak nabootsings van Amerikaanse rappers se bling, bitches en hoes. Glinsterende walks on the beach. Saai danspassies. Noem dit op en die Afrikaanse musiekvideo gee dit vir jou met ‘n glimlag.

Waag dit egter om aan te dring op iets met ‘n bietjie meer verbeelding as Saddam se lyk, dan word jy gekonfronteer met: “ons het nie geld nie. Die begroting laat dit nie toe nie.” Fondse, skaars? Inderdaad. Filmproduksie is ‘n duur spulletjie. Laas toe ek egter gekyk het, was inisiatief gratis – en die prysverskil tussen Kunstenaar X wat vir 4 minute voor ‘n kamera op ‘n plaas rondploeter en dagdroom versus Kunstenaar X wat vir 4 minute iets aanvullend tot sy of haar musiek aanvang, is so te sê nul.

Wat my by die problem uitbring. Ek kan nie besluit of, sou ek ‘n nagmerrie hê, ek moet droom van ‘n Afrikaanse musiekvideo of Saddam se wapperende kadawer nie. Albei is ewe skrikwekkend. (Ewe dood ook, noudat ek daaraan dink.) Voorstelle?

Post to Twitter

5 Responses to “Chimeries generies (My kingdom for a voorlaaier)”

  1. ja. moenie na enige van die twee kyk nie.
    “see no evil, hear no evil, speak no evil”

    Reply

  2. Ek wonder nog self of ek die video van sy dood moet kyk. Dit is so banaal – so amper asof mens self opgee en maar aanskou… net soos daardie keer met Daniel Pearl – ek het dit darem vermy. Jammer daar was die cellphone cams is Freud se tyd nie.

    Na ek die skuim om my mondhoeke weggevee het en jou posting klaar gelees het, wonder ek so bietjie of ‘n mens nie miskien Sadam se video (as ek dit nou kyk) kan toonset op ‘n Patricia Lewis treffer nie. Dit sal mos alom ‘n wenner wees.

    (Tussen hakkies: die beste Afrikaanse video moet sekerlik “Annamarie” wees wat te koop is by “alle goeie musiekhandelaars” en die logo’s van Game en Hipermark vertoon)

    Reply

  3. Annamarie…my skat?

    Reply

  4. Na omtrent ‘n jaar kan ek met blydskap verklaar dat Suid-Afrikaanse musiekvideos verskeie groot tree vorentoe geneem het. Welgedaan, industrie :)

    Reply

  5. [...] beligting. Hoewel die standaard van Afrikaanse musiekvideos aansienlik verbeter het sedert hierdie inskrywing (die industrie verdien sonder twyfel ‘n pluimpie vir die afgelope jaar of wat se vordering), [...]

Leave a Reply

CommentLuv Enabled