Ilza Roggebrand het 'n maand of wat gelede die volgende (aan Riku Lätti) op LitNet geskryf:
Riku, jy en ek glo enige kunstenaar wil graag voor 'n uitgepakte saal/tent/venue sing. Wanneer Huisgenoot – ek neem aan die meeste van jou kritiek is op ons gerig – kunstenaars soos Kurt en Robbie Wessels en Nicholis Louw op ons verhoog by kunstefeeste sit, sit ons hulle daar omdat ons weet wat die mense wil hê. Ons wil boude op stoele hê en daardie kunstenaars doen dit vir ons. Maar ek weet ook dat Laurika en Chris Chameleon en Jannie Moolman ook ons tent volmaak, en jou teorie dat ons net in “karaoke-sangers” belangstel, is dus 'n bietjie wankelrig. En niks gee my meer plesier om 'n kunstenaar soos Abel Kraamsaal of Gian Groen tussen kunstenaars soos Kurt en Nicholis op die verhoog te sit en te sien dat daar so hier en daar 'n ander wêreld vir mense oopgaan nie.
Behalwe dat Roggebrand nie skroom om woordoortolligheid te pleeg nie (sy besef klaarblyklik nie dat sale en tente venues ís nie) gebruik sy 'n baie geykte woordjie om na sangers te verwys.
Kunstenaars.
Dit sal seker arrogant wees om daarop aan te dring dat sekere sangers nie kunstenaars is nie (alhoewel ek voet by stuk hou dat Paris Hilton hel toe moet gaan vir die liedjies wat sy sing). Tog kan ek nie help om te sidder wanneer ek dit hoor nie. Hoekom? 'n Kunstenaar is iemand wat iets skep. In die wêreld waaroor Roggebrand skryf, is dit egter so ver van die waarheid af as wat kan kom. Teen die tyd wat iemand 'n “treffer” hoor, is dit lank nie meer een persoon se breinkind nie – 'n hele span vervaardigers, editors, klankmanne, ateljeeskoonmakers (ja, selfs ateljees raak vuil) en pizzaguys het dit dan reeds onder hande gehad. Die sogenaamde “kunstenaar” se skeppende inset is weinig groter as die mikrofoon wat hy of sy vashou.
Roggebrand kan eerder van “vermaakkunstenaars” praat. “Kunstenaar” just doesn’t cut it op 'n semantiese vlak.