Gister in die assistentelokaal by die Departement kom Dr Foster die vertrek binne. Sy moet die aand aan haar referaat werk en bied vir my haar komplimentêre kaartjie vir die Skrywersgala in die HB Thom-teater aan. Wil ek gaan? Natuurlik wil ek gaan. Die skrywersgala is (so word daar gesê) die hoogtepunt van die Woordfees. Beroemde Afrikaanse en Nederlandse skrywers lees uit hulle werk voor in 'n multimediaproduksie van beeld en musiek – en die gehoor juig of gil nie. (Hulle voeter nugter en ingenome hulle palms teen mekaar.)
So gebeur dit toe – vir die eerste keer in my lewe het 'n paar van die name wie se werk ek bestudeer, lewendig geword. Hennie Aucamp het een van sy nuwe kortverhale voorgelees. Wilma Stockenström het onder meer Die Eland voorgedra; Chris van Niekerk en Laurinda Hofmeyr het nuwe lewe in afgestorwe of afwesige name se woorde geblaas. Hofmeyr se toonsetting van Dans van die reën (Eugene Marais) was veral meesleurend. En daar was gratis wyn.
Tog was die aand vir my 'n ontnugtering.
Daar was nie 'n enkele student in sig nie. Na 'n lang gesoek kon ek, in 'n teater wat 430 mense kan huisves, seker vyf of ses jongmense sien. In die pouse kon ek ook wel vir Karlien (van Leeway) opspoor. Sy het saam met haar ouers gekom. Terwyl ons praat, deel sy toe met my die einste ding waaroor ek ook gesit en dink het tydens die vertoning – iets wat nogal onstellend kan wees as jy Afrikaanse letterkunde bestudeer.
Wat gaan hiervan word oor 30 jaar?
Jongmense stel vandag weinig belang in prosa. Nog minder in poësie. 'n Tiener met 'n boek onder 'n boom is nie iets wat jy aldag sien nie; die enigste gedigte wat werklik gehoor word, is dié’s wat getoonset is. Jong Afrikaners (en verstaan mooi, my Afrikanerskap het fôkkôl met my velkleur uit te waai; ek gebruik daai woord inklusief) se idee van literêre vermaak is lirieke. Hiervoor het MK89 meer as genoeg begin sorg. Toets dit – vra tien jongmense wie Breyten Breytenbach is. Kyk hoeveel regte antwoorde jy kry.
Waarheen is die wêreld wat ek en my klasmaats bestudeer op pad? Sal Van Wyk Louw en Krog se werk ooit soos die bostaande foto daaruit sien? En wie gaan in die toekoms by daai vertoning sit?
