Rikku Latti skryf toe mos 'n tydjie gelede dat backtracks Afrikaans se swart gat is. Ek vind dit uiters vreemd en wil graag drie dinge uitlig:
1. Backtracks as sulks is nie noodwendig boos nie. Op die ou einde van die dag is 'n vervaardigde liedjie 'n konglomeraat gemanipuleerde klanke, elkeen gebed in die digitale loopgrawe van Audition, Cubase of wat jy ook al gebruik om dit mee vas te vang. (Notepad as jy die Übermensch is.) Om backtracks te verwerdig, is deels om die menslike stem superieur te ag bo die res van hierdie geluide.
Dis natuurlik so ver van die waarheid af as wat kan kom. 'n Stem kan nie die polifoniese harmonieë van 'n Chapman Stick of die asemrowende spoed van 'n viool of 'n elektriese kitaar troef nie. Dit kan ook nie gebruik word om mense mee te slaan nie en klink afgryslik wanneer dit distort (wat dit natuurlik, na my baie subjektiewe mening, besonder vervelig maak).
‘n Backtrack is nie 'n minderwaardige supplement tot 'n paar stembande nie, want op 'n suiwer tegniese vlak is die menslike stem nie juis die wonderbaarlikste instrument wat bestaan nie. (As iemand vorendag kan kom met 'n tenoor wat al 24 van Paganini se capriccios op tempo kan sing, sal ek van mening verander.) Latti kan gerus eerder stemme afkraak, in welke geval hy homself ook sal moet beledig.
2. Latti begryp moontlik nie dat digitale musiek (trance jumps to mind) oor iterasie eerder as variasie gaan nie. Dat dit soms oor buitensporige volumes gaan wat jy nie net moet hoor nie, maar moet voel. Dis 'n oerding. Infected Mushroom se werk is 'n goeie voorbeeld van die soort genialiteit wat aan die dag gelê kan word met samplers en sagteware. Die afwesigheid van snare maak nie noodwendig iets so kommin soos gras nie.
3. “Karaoke-sangers” het backtracks, Latti speel kitaar – dis asof hy daarna skimp dat backtracks minderwaardig is teenoor die instrumente wat hy tydens vertonings gebruik. Vreemd. Want Latti benut nie werklik sy eie instrumente ten volle nie. Die dag wat hy soos Yngwie Malmsteen kan speel – die dag wat hy Paganini kan naboots sonder om 'n oog te knip – eers dan kan hy ander vermaakkunstenaars en hulle begeleidende backtracks afkraak. Tot dan moet hy eerder swyg.
Kyk dan net hoe mooi doen oom Yngwie dit:
27% van hierdie bl0g se lesers is Atilla die Hun. Hou jy van xilofone?