
So nou die dag sit ek toe mos met my eksistensiële angs. Alleen in 'n hoekie. (En, mind you, hierdie hoekie is nie baie skoon nie. Dis vol gekreukelde klere en MacDonalds koffiebekers en boeke oor Nietzche en 'n Bybel.) Ek is nie Breytenbach nie en kon tot dusver nie die niet vertrap nie. Maar ek trag.
Tog pla dit my eindeloos dat ek die vermetelheid het om knus tussen klere en koffie en boeke te dink oor 'n gat wat my sekerhede (soos almal s’n, maar) skelm probeer insluk. Want 'n paar kilometer van hier af is bloed so vryelik beskikbaar soos water en swart en gekoek en taai soos die lewe. En orals. Dogtertjies eet lood en kan nie leer om panne te skrop vir die patriargie nie, want kadawertjies kan nie kook nie.
Is dit pretensieus om Kaapse Vlaktes in jou gemoed hê sonder Kaapse stof onder jou voete?