(Die onderstaande sonnet is vandag geskryf tydens telefoondiens by Die Departement. Ek dink ek het 'n nuwe woord gemunt, alhoewel ek nie seker is of my vorm daarvan goeie grammatika is nie. Take that, HAT.)
Bomskok
bloedsproei sif siedend tussen spaanders
en sinterige oogroet op torso’s neer
slierte vlees flonker rou en soos 'n veer
dwarrel 'n ontbeende tendon (sy spiere elders)
verstar in die nageboortelike aromas
van swael en kruitdamp en stootwaentjies
en plastiek en omgedopte winkelmandjies
vol drelle en dakbalke en baba’s
‘n ingeduikte brandblusser lê eensaam
tussen vloerteëls en niere en huil
skuimend oor sy verlore rooi pyp
wat papperig soos 'n helmint vuil
in die oogkas van 'n lyk wurm: ryp
en taai probeer dit maaiers kraam.
© Johan Swarts 2007