Ek kan nie altyd na Iron & Wine luister nie. Die musiek maak my kwaad, omdat ek jaloers is op die geluksaligheid wat dit uitbeeld. Dis 'n kalmte wat ek nie het nie en ook nie wil hê nie. Ek moet aangedryf word deur Rammstein of Fokofpolisiekar of Vivaldi in 'n mineur. Sprekers in lirieke wat soos die outjie in my binneste voel, is kamerade – afgestemde elektriese kitare wat sinkopaties blêr sus my omdat ek weet hoe katarties dit is om hulle so te laat klink.
Anders as lakonisme was sereniteit nog altyd vir my 'n klug. Tot ek vanoggend om 02:00 nog saam met iemand op Nerina se voorstoep gesit het. Die hemel het geflits en gebliksem en gebrul. Die nag was 'n Offspring-opus. Ons het 'n blou kombersie gehad en na 'n boom gekyk wat spigtig in die geweld van die nagwind geswiep het. 'n Kop het soms skugter op 'n skouer gaan lê – onpretensieus en effens onseker en net so sinies soos ek. Twee leë koffiebekers het mekaar geselskap gehou op 'n skinkbord.
Ek was rustig. 'n Mens kan nie baklei met die weer nie.