Ons hou van feedback

Op skool was ek in 'n band. Wattage. My kitaar was nie my vingers se beste maatjie nie en die baskitaarspeler het nooit 'n baskitaar besit nie. Wanneer ons geoefen het, het dit gewoonlik in chaos ontaard. Ek was 'n Creed- en Three Doors Down aanhanger, Pierre (tromspeler) het gehou van NOFX, Jacques (hoofsanger) het al 'n aanbod na 'n boeremusiek-orkes gehad en Marsanne (wat tegnies nie baskitaar gespeel het nie) het klassieke musiek en Afrikaanse danstreffers verkies.

Nodeloos om te sê kon ons oor niks saamstem nie:

Tog, vanweë ons uiteenlopende invloede was dit een van die produktiefste tye van niksdoen in my lewe. Lirieke is meestal in die hitte van die oomblik geïmproviseer. Musiek ook. Vir twee ure elke week het ons meer gelag as 'n literator vir Penseel. Sorgeloos.

Uit die opnames wat ons met my rekenaar en die kerk se klankstelsel gemaak het, het ek en Jacques later vir almal die berugte Wattage CD gemaak. Dit was die somtotaal van ons kreatiwiteit: vier selfgesnyde laserskywe met 'n ingekleurde potloodskets op die voorkant.

die-kersfees-cd.jpg

Jacques was die Hoërskool Bellville se eerste spotprenttekenaar, is gelukkig getroud en maak tans kweelgeluidjies vir sy babadogtertjie. Marsanne swot Musiek. Pierre het 'n klankingenieur geword. Karlien Husselman (wat een aand by die kerk opgetree en ons naam verkeerdelik uitgespreek het as “die What’s Up band“) het vanjaar by die KKNK opgetree saam met 'n kitaarspeler en 'n backtrack. Die bottel Smirnoff Twist op my lessenaar noop my om hierdie inskrywing kort te knip en Gorter se Sonetten klaar te lees.

This entry was posted in Musiek. Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>