
Tale, soos mense, sterf almal een of ander tyd uit. Dit was die lot van Chicomuceltec, !Xam, Akkadies en 'n swetterjoel ander waarvan ek die name nie eers kan begin uitspreek of vertaal nie. Voorafgenoemde tongknopers het elk 'n lepel in die leksikon gesteek omdat hulle deur primitiewe beskawings gepraat is en ruïnes nie oor stembande beskik nie. (Ek sou kon dink dat, as Maja’s rekenaars of die drukpers ontdek het, hulle taal dalk langer gepreserveer sou kon word. Dis ongelukkig te laat om te probeer.)
Ons 11 amptelike landstale is natuurlik nie 'n uitsondering nie. Ek gee hulle 'n maksimum van 500 jaar voor hulle óf gedeeltelik verdwyn óf begin kreoliseer (suiwer taal is in elk geval 'n nasionalistiese mite) óf saam met die kontinent uitgewis word in 'n grootskaalse kernoorlog.
Die beste teenvoeter vir die uitsterwing van 'n taal is, ironies genoeg, oorlog en kolonialisme. Dis hoe Engels (dink Amerika en Australië), Frans (dink Kanada, Chad en Kameroen), Spaans en Portugees (dink Suid-Amerika) en Latyn (dink al die tale in hierdie sin) uitgebrei het.
“Hoe dan nou gemaak met onse Trots?” hoor ek die hoeders van Orania se lingua franca vra, onderwyl hulle petisies teen MXit na Jannie Pelser stuur. Die oplossing is voor die handliggend. Ek sou myself beduidend hard skop omdat ek dit nie uitgedink het nie, maar ek het (en daarom gaan ek myself nie skop nie):
Koop Kanada. Verklaar oorlog teen Amerika. Wen. Dwing hulle kinders om soos ons s’n te vloek en siedaar – nog 'n paar honderd jaar vir Opperman en Krog.
Dis onfeilbaar.