—
tor-teodisee
eers: die triomfantelike flakker van vlerke
swierig in die maanlig, gepantser en geveer
omgeef met membraan en eksoskelet
stip, soos die Horlosiemaker blindelings dikteer.
dan: paniek in die voelers. flitsbeelde
van dop en mandibel, spigtig
asof kreet uit aar en spier opwel
wyl harsings stuif en vliese grif
in fletsrooi vleis op glas. 'n laaste adem
stol. soos gevriesde mukus meng ryp
met spatsel op 'n ruit; onderlangs
brom ontbranding soos metaal silinders slyp.
het tor na Eva aan die heilsvrug gevreet?
of was hy perdalks tevergeefs 'n askeet?
© Johan Swarts 2007
