(Met apologie aan Idiwidi)
Wonderwerke is nie wetenskaplik toetsbaar nie.
Om iets wetenskaplik te toets vereis allerhande oulike dingetjies, soos 'n onderskraging van redelikheid en die formulering van hipoteses. Die belangrikste hiervan is egter die herhaalbaarheid van betrokke fenomene. Dit is byvoorbeeld slegs moontlik om te ontdek of metale uitsit tydens verhitting as dit herhaaldelik verhit kan word. Was dit die geval dat metale soms, in emosionele oomblikke van entropie, in swart gate gaan skuil voor 'n verhittingsessie (absurd, ek weet) sou dit onmoontlik wees om te toets wat met hulle gebeur as hulle warm word.
So ook is die probleem met wonderwerke, omdat die goed per definisie nie herhaalbaar is nie.
‘n Wonderwerk is slegs 'n wonderwerk indien dit gewerk het. Dis tog eenvoudig – iemand met tongkanker is slegs wonderbaarlik genees van tongkanker indien die tongkanker verdwyn het. Dit kan nie 'n tweede keer weg wees nie, want dit sou beteken dat die eerste verdwyning nooit 'n verdwyning was om mee te begin nie. 'n Onsuksesvolle wonderwerk is 'n onlogiese begrip, nes dit sinneloos is vir een kadawer om dooier te wees as 'n ander een.
Die paradoks? Dit is wetenskaplikes se plig om vreemdhede in die wêreld te ondersoek. Hulle besit die intellektuele hamers wat mistieke aspekte van die werklikheid inmekaar moet voeter om ons 'n beter begrip daarvan (en greep daarop) te gee. 'n Wonderwerk, as 'n verontagsaming van reeds gepostuleerde natuurwette, is juis so 'n vreemdheid. Dit is dus wetenskaplikes se plig om iets te ondersoek wat nie wetenskaplik ondersoek kan word nie.
Dis kompleet asof Iets handskoene aantrek voor sy/hy/dit begin inmeng. Soos 'n dief in die nag, as ek die interteks verskoon mag word. Ek dink egter nie enigiemand sal ooit wéét nie. Nie Stephen Hawking nie, nie Richard Dawkins nie, nie Jannie Pelser nie. Nie eers Steve Hofmeyr nie.
Ek haat dit om nie te weet nie.
Afrikaanse vertalings is 'n ambivalente saak. Glo jy in wonderwerke?