
‘n Man is nie 'n klip nie. 'n Man is egter ook nie 'n damwal nie en gisteraand in die CTICC (Cape Town International Convention Centre) het ek tydens die serfinaalpouse die manskleedkamers betree. Ek het 'n hokkie gesoek, my broek gestroop en stelling ingeneem. (En, sonder dat ek dit kon help, aan Bertus! se snoeiery gedink.) En toe tref die wonderlikste gedagte my.
Daar het al presidente op hierdie ding gesit.
My sitvlak deel nou 'n porseleinbak met die boude van beroemde staatsmanne, besigheidsmanne, akteurs en musici. En skoonmakers. Vir 'n oomblik het ek geslepe, gierig, filantropies en geniaal gevoel. Sommer gelyktydig.
Sjoe, het ek gedink.
Hippokrates (van die mediese kampus) het skoonskip gemaak in die mansafdeling; die nuwe koshuis se dames, ook bekend as Metanooiens, het met die vrouelouere weggestap. Ses ander sergroepe het vreeslik terneergedruk uit die ouditorium gestrompel en dinge gemompel oor hoe onregverdig die beoordelaars was of hoe die uitdunrondtes hulle gekelder het.
Ek het die gebou met 'n glimlag verlaat. Almal was wenners.
Ablusieblokke is nie klippe nie.