“Only two things are infinite: the universe and human stupidity, and I am not sure about the former.” – Albert Einstein
In elke nugter denkende mens se lewe is daar 'n kritieke oomblik van 1337ness. Dis 'n dramatiese sameloop van omstandighede wat maak dat jy jou arms na bo werp, op jou knieë val en deurtastend tot die hemele gil: “WTF n00b?!”
Ek was onlangs by 'n seminaar oor kreasionisme in die Neelsie. (Die plakkate was mooi en ek het gehoop George Claassen daag op. Hy het nie. Bliksem.) Gary Bates was aan die woord en het vertel dat almal wat nie soos hy glo nie sal smeul in die hel (wat sesduisend jaar oud is). Ook dat almal sy boek moet koop.
Bates gebruik woorde soos “an online blog” en “we have sinned, therefore there is tornadoes”. Ek en hierdie aangename kêrel het na die tyd met hom gaan praat. Wat, wou ek vriendelik weet, is sy kwalifikasies?
“I don’t have any scientific qualifications.”
Nee, het ek weer probeer, jy verstaan my verkeerd. Ek wil bloot weet of jy hoegenaamd al in enigiets onderrig is. Kuns, dalk. Of filosofie. Dalk selfs graphic design of assembler programming. Het jy matriek?
“I went to school, yeah”. En toe? “Then I joined the Australian police force before I went into ministry.”
Net daar het ek op my knieë geval.