‘n Bietjie navorsing toon aan dat die ou Suid-Afrikaanse landsleuse, Ex unitate vires (Eendrag maak mag), nie vreeslik oorspronklik was nie. Vir jare reeds is dit die trotse motto van 'n drietalige België, wat “Eendracht maakt macht” (Nederlands), “Einigkeit macht stark” (Duits), en “L’union fait la force” (Frans) heet. Dis ook die leuse van Pembrokeshire, 'n graafskap aan die Suid-Westelike kus van Wallis. Het dit ons voorouers gekeer het om dit as volkstrots te assimileer?
Identiteit is 'n smerige besigheid – vir elke afbakening van 'n subjektiewe self is daar gewoonlik nog een wat dit problematiseer. (Dink aan die Xhosameisie wat 'n Indiese skoonheidskompetisie gewen het.) Politici teer op volkstrots; nasionalisme is so abitrêr soos die landsgrense wat dit omskryf.
Hierdie blog het natuurlik geen politieke affiliasies nie. (Hoera! hoor ek jou sê.) 'n Klompie lesers het destyds hier stem dikgemaak oor hulle eie identiteit. Die poësie van Johannes_11 tersyde, sien die resultate as volg daaruit:

Die oorgrote meerderheid (86%), expat of nie, beskou hulleself as Suid-Afrikaners. Effens minder (71%) is Afrikaners en selfs nog minder (52%) reken hulle is Afrikane. Oor laasgenoemde kwessie heers daar effense onsekerheid: 10% weet nie mooi wat hulle is nie.
Wat maak 'n mens met so 'n steekproef? Seker niks nie. Kennis is mag en Bacon is lekker, maar die data is uiters beperk (ouderdom, ligging en sosio-ekonomiese status is byvoorbeeld nie in ag geneem nie).

Hoekom is die Afrikaner dan so gemoeid met sy identiteit? Heidegger meen die mens is die enigste spesie wat homself bemoei met gedagtes oor sy eie bestaan. “Alleen die mens”, skryf Opperman ook, “tref in sy swerwe / tussen hede, toekoms en verlede / die spleet tot grotte / van die rede” (Vuurbees). Is ons mense? Yup, ons is deur die bank gepla met die sin van ons eie bestaan. Swerwers? Ons emigreer vandag nog na die uithoeke van die aarde. Die eenvoudige antwoord is dan seker: ons is gepla met ons identiteit, omdat ons mense is.
Dis natuurlik veel meer ingewikkeld as dit. Toe die Afrikaner sy politieke mag verloor het, het hy tot 'n mate ook die eendrag verloor wat in sy landsleuse vervat was. Ons is so gefragmenteerd soos kanonfodder in 'n parskuip en dit maak ons, ironies genoeg, uniek. Iets ontbreek en ons soek dit terug.
Wat het dit met blogs uit te waai? My hipotese (tentatief ook die navorsingshipotese van my MA-tesis – steel dit en voel die toorn van my kitaar) is dat blogging die gemarginaliseerde Afrikaner 'n geleentheid bied om, binne die veilige ruimte van die internet, weer 'n stem te ontwikkel. Insgelyks bied dit Afrikaners wat deur hulle volksgenote gemarginaliseer word die geleentheid om onderdrukking teen te staan en hulleself sodoende te emansipeer. Op die internet is almal gelyk.