Pasteie en die sin van Afrikaanse blogging
‘n Bietjie navorsing toon aan dat die ou Suid-Afrikaanse landsleuse, Ex unitate vires (Eendrag maak mag), nie vreeslik oorspronklik was nie. Vir jare reeds is dit die trotse motto van ‘n drietalige België, wat “Eendracht maakt macht” (Nederlands), “Einigkeit macht stark” (Duits), en “L’union fait la force” (Frans) heet. Dis ook die leuse van Pembrokeshire, ‘n graafskap aan die Suid-Westelike kus van Wallis. Het dit ons voorouers gekeer het om dit as volkstrots te assimileer?
Identiteit is ‘n smerige besigheid – vir elke afbakening van ‘n subjektiewe self is daar gewoonlik nog een wat dit problematiseer. (Dink aan die Xhosameisie wat ‘n Indiese skoonheidskompetisie gewen het.) Politici teer op volkstrots; nasionalisme is so abitrêr soos die landsgrense wat dit omskryf.
Hierdie blog het natuurlik geen politieke affiliasies nie. (Hoera! hoor ek jou sê.) ‘n Klompie lesers het destyds hier stem dikgemaak oor hulle eie identiteit. Die poësie van Johannes_11 tersyde, sien die resultate as volg daaruit:

Die oorgrote meerderheid (86%), expat of nie, beskou hulleself as Suid-Afrikaners. Effens minder (71%) is Afrikaners en selfs nog minder (52%) reken hulle is Afrikane. Oor laasgenoemde kwessie heers daar effense onsekerheid: 10% weet nie mooi wat hulle is nie.
Wat maak ‘n mens met so ‘n steekproef? Seker niks nie. Kennis is mag en Bacon is lekker, maar die data is uiters beperk (ouderdom, ligging en sosio-ekonomiese status is byvoorbeeld nie in ag geneem nie).

Hoekom is die Afrikaner dan so gemoeid met sy identiteit? Heidegger meen die mens is die enigste spesie wat homself bemoei met gedagtes oor sy eie bestaan. “Alleen die mens”, skryf Opperman ook, “tref in sy swerwe / tussen hede, toekoms en verlede / die spleet tot grotte / van die rede” (Vuurbees). Is ons mense? Yup, ons is deur die bank gepla met die sin van ons eie bestaan. Swerwers? Ons emigreer vandag nog na die uithoeke van die aarde. Die eenvoudige antwoord is dan seker: ons is gepla met ons identiteit, omdat ons mense is.
Dis natuurlik veel meer ingewikkeld as dit. Toe die Afrikaner sy politieke mag verloor het, het hy tot ‘n mate ook die eendrag verloor wat in sy landsleuse vervat was. Ons is so gefragmenteerd soos kanonfodder in ‘n parskuip en dit maak ons, ironies genoeg, uniek. Iets ontbreek en ons soek dit terug.
Wat het dit met blogs uit te waai? My hipotese (tentatief ook die navorsingshipotese van my MA-tesis – steel dit en voel die toorn van my kitaar) is dat blogging die gemarginaliseerde Afrikaner ‘n geleentheid bied om, binne die veilige ruimte van die internet, weer ‘n stem te ontwikkel. Insgelyks bied dit Afrikaners wat deur hulle volksgenote gemarginaliseer word die geleentheid om onderdrukking teen te staan en hulleself sodoende te emansipeer. Op die internet is almal gelyk.


Ek dink nie die Afrikaner is juis uniek nie. Die Afrikaner is besig om dieselfde pad te loop wat ander volke reeds op is (ek dink veral aan Wes-Europese lande). Ons is besig om aan te pas in ‘n wêreld waar die ou bekende bakens nie meer tot ons spreek nie.
Ek dink die Afrikaner is besig om geassimileer te word in die moderne era waar konsepte soos geloof, nasionaliteit, patriotisme ondergeskik gestel word aan persoonlike vryheid en ekonomiese vooruitgang.
Ek stem ook nie saam dat iets ontbreek en ons dit terug soek nie. Wat ontbreek? ‘n Unieke identiteit? Samehorigheid?
Dit is lekker om foto’s uit te pluk en die verlede te romantiseer. Maar daar stop dit ook.
Ek dink die Afrikaner is besig om (soos baie ander Westerse lande) ‘n post-nasionalistiese fase te betree. Ons raak maar net meer soos ander Westerse nasies.
Reply
Dit gaan ‘n lekker tesis onderwerp wees.
Reply
George – mag is wat ontbreek.
Ek stem veral saam met jou kommentaar aangaande die ondergeskiktheid van konsepte soos geloof. ‘n Vinnige scan van aktiewe Afrikaanse wordpress tags op ENIGE oomblik wys dat ons amper waansinnig besig is om godsdiens te analiseer.
Reply
Identiteit is ‘n erg smerige besigheid! Die antropologie van identiteit en die geldigheid van kultuur per se is seker die mees gedebateerde onderwerpe in die veld van Antropologie. Baie sosiale antropoloë glo dat daar nie iets soos kultuur bestaan nie en dat identiteit ‘n hoogs proplematiese konsep is omdat dit, so sê hulle, by implikasie nie ruimte laat vir (bv.) “cultural fluidity” of breë kulturele vloeibaarheid nie. Vrae vir bespreking wat jy (dalk in jou verhandeling) en ons (op jou blog) na kan kyk is juis “wat is identiteit” en “wat is kultuur” – ook mbt die Suid-Afrikaanse konteks en die Afrikaner – en/of Afrikaanse taalgebruiker – vraagstuk (maar dis ‘n gesprek wat ten beste oor baie biere en glase rooiwyn gevoer moet word want dit huiwer meestal op ‘n diep filosofiese marge).
Anyway, so as kantgedagte, hoekom sou jy sê is daar hierdie godsdiens-verstaans-preokkupasie? Ek kyk bv. na ‘n verskynsel soos Kent Hovind, ‘n kreasionis wat soms twyfelagtige “wetenskaplike” bewyse voorhou om ‘n hele boel evolusie en oorsprongsvraagstukke te verklaar. Volgens wat ek kan agterkom is die mark vir sy materiaal in Suid-Afrika by verre die gewildste onder Afrikaanssprekendes…die Ingelse steur hulle nie aan hom nie. Ek wonder…?
Reply
Hulle sê met statistiek kan jy jou vinger… uhum, pasop vir warm pasteie!
Reply
Oeps sorry vir my vinger inni “pie”….!
Reply
Vir interessantheidsonthalwe, wat was die grootte van hierdie steekproef?
Myns insiens
Ons identiteit word bevraagteken.
1) Ons het onsself nog altyd as uniek beskou. ‘n Jong, selfgeskepte nasie. Gebore oor generasies op hierdie stuk SA grond.
2) Eie taal geskep
3) Eie kultuur geskep
4) Ons was relatief vir ‘n kort rukkie in beheer van onsself
5) Daarna word ons “bestaansreg” ontneem
6) Ons voel bedreigd, uitgeworpe
7) I liken it to a child whom knew parents’ love and the stability of a home, to the loss of that and is now an orphan.
Ja, die blog wêreld gee ons baie terug, maar soos jy tereg sê, ons “power” is nie meer daar nie en ons is nou deur die wêreld versprei. Weereens in die blogosfeer is ons identiteits asook, gesigloos.
Reply
HHHmmm, nou iets geleer ‘n agt) word daardie gesiggie!
Reply
Duskant – Laat die voggies vloei. Ek sou sê identiteit is onvermydelik, omdat onderskeiding tussen en klassifikasie van fenomene ‘n fundamentele breinfunksie is. Dis wat op hierdie oomblik maak dat die elektrongepeperde fosfor op my skerm vir my intelligible is as klein lettertjies.
Ek het nie die vaagste benul wat die oorsaak van die godsdiensbeheptheid is nie. (OK, ek het ‘n redelike goeie idee, maar dis nie nagevors of opgeback deur enigiets anders nie, so vir eers bly ek stil. Hovind val vir my onder die einste beheptheid.)
Engelse Namakwanooi – Slegs ‘n handjievol mense (21) het deelgeneem, so ‘n mens kan nie juis enigiets daarmee doen nie. Maar ten minste het dit my die geleentheid gegee om shiny pie graphs te maak
Reply
M8) dis oulik
Reply
Pr
tig!!!
Reply
Johan, dankie vir die moeite en hierdie interessante inskrywing!
Reply
Reply
O, ja! Wou nog vir Benjamin Disraeli aanhaal:
“There are only three kind of lies: Lies, damned lies and statistics”
Reply
As ek enigsins as ‘n arme-gemarginaliseerde-Afrikaner-wat-onderdrukking-wil-teenstaan geetiketteer word omdat ek blog, sal ek dit oorweeg om summier op te hou.
Reply
Glad nie wat ek sê nie. Ek spekuleer meer in die lyn van gemarginaliseerde ateiste wat teen die kerk uitvaar of gays wat baie eerliker aanlyn is oor hulle seksualiteit as in die regte lewe. Die onderdrukking is van Afrikaners, deur Afrikaners.
Reply
Ek sal later kommentaar oor die inhoud lewer… belowe
Wou net sê ek dink dis ‘n baie cool onderwerp. Ek dink daar sal dan dalk ‘n tesis wees wat ek wil lees!
Ekself sit en karring aan my MPhil onderwerp. Ek vermoed dit gaan handel oor die herdefinisie van realiteit binne die elektroniese sosiale netwerk (teenoor die meer tradisionele sosiale netwerk). (O ja – en dit sal meer catchy moet wees)
Reply
Laat die antie – ja, sy’s weer terug-erig – haar stuiwer ingooi.
Oor die tesisonderwerp: Dis interessant, maar sal waarskynlik die beste werk as jy dit op ‘n manier vergelykend kan maak. Dit gaan moeilik werk as jy net gewoon sê Afrikaners is gemarginaliseer en weens dié toestand wend hulle hulle tot die internet.
Moeilik as hipotese want jy sal dan alle ander faktore moet uitskakel. Blog hulle nie skielik baie wyd en wragtig omdat breëband-konneksies skielik baie meer in Afrikaanssprekende huise teenwoordig is nie? Blog hulle nie omdat so baie van hulle vriende in die buiteland is en dít die beste manier van kontak hou is nie? Of is dit dalk omdat die gier gewoon van die VSA oorgewaai het?
Om so ‘n Afrikaanse blogargument te voer sal jy hulle fyn moet onderskei van Engelssprekende SA bloggers, van wie daar sekerlik meer is, nie?
Wat van ‘n vergelykende studie van twee klein taalgemeenskappe? Afrikaans en ‘n ander taalgemeenskap? Dalk ook ene in ‘n veeltalige opset?
Tog interessant, maar die hipotese sal fyn bedink moet word.
Voorspoed!
Reply
Ek dink ek het myself effe verkeerd uitgedruk. Dis nie die navorsingshipotese nie, dis een van vele. Die hooffokus is tans op blogs as outobiografieë. (Dit mag die Antie wel interesseer om te weet dat daar reeds navorsing gedoen is oor die marginaliseringsaspek. Dis inderdaad ‘n motivering.)
Miskien verstaan idiwidi en die antie my effens verkeerd. Ek meen nie elke liewe Afrikaanssprekende op die planeet blog uitsluitlik om redes X, Y en Z nie. Ek bedoel eintlik daar is onsettend baie Afrikaanse bloggers en ‘n buidende aantal van hulle blog om redes X, Y en Z. Maar redes X, Y en Z is nie mutually exclusive met ander redes nie, nes my gunsteling kos my nie verhoed om soms ook avo en olywe (urgh) te eet nie.
‘Baie goeie voorstel oor die vergelykende studie, ek neem dit ter harte.
Reply
Is ‘n ‘dink’ post… en dis ‘n ‘nice’ post!!!
E
Reply
(Johan, goeie stukkie kopkrap, daar!)
George Maru sien Afrikaner-identiteitsvorming in ‘n nasionalistiese sin. En vergelyk dit dan met ‘post-nasionalisme’ in die Westerse wêreld.
Die post-nasionalisme in die Europees-westerse wêreld vertoon egter volgens my nie ‘n eenvormige wegbeweeg van identiteitsvraagstukke nie. Die invloei van die ‘ander’ (Turkye, Afrika, ens.) werk juis mee tot ‘n nuwe spanning oor ‘ons.’ ‘n Voorbeeld van uitsonderings op Maru se vermoede, is byvoorbeeld België (wat al 150 dae sonder regering sit weens onder meer identiteitspolitiek) en Nederland wat volgens wet skoolkinders verplig om slegs Nederlands op skool te praat en Duitsland.
‘n Stelling soos “ons is besig om ons aan te pas by ‘n wêreld waar die ou bekende bakens nie meer tot ons spreek nie,” impliseer steeds ‘n soeke na nuwe bakens. In hierdie sin is die vraag oor Afrikaner-identiteit dan nie soseer ‘n teruggryping na die vorige bakens nie, maar ‘n sintese uit beide verlede en hede (en ek sou sê ook bepaalde toekomsverwagtinge). Dat dit toenemend minder gedomineer word deur die idee van die nasiestaat, is moeilik om teë te spreek. Dat dit nuwe legkaartstukke in die groter elektroniese web van tyd- en ruimteloosheid bou, lyk redelik duidelik.
Ek sou nie sê dat ‘n goeie stuk oordenking oor Afrikaner-identiteit tydmors en uitgedien is nie. Johan (kommentaarstuk 9) sien selfs iets onvermydeliks daaraan.
Reply
[...] Dink jy, vanuit ‘n sosio-politiese oogpunt beskou, dat Afrikaans sal bly voorleef, in verwysing na jou inskrywing van pasteie en die sin van Afrikaanse blogging? [...]