Hoekom vegetariërs verkeerd is

Kan mense walvistaal praat? Natuurlik kan ons. Al wat ons moet doen is om die kolosse se soniese gedrag te analiseer totdat ons genoeg grammatiese en semantiese data het ten einde 'n verstaanbare taal te konstrueer. Ek kan nou al sien hoe die eerste duiker in 'n walvispak die duisternis insink om interspesie performance poetry slams te hou.

Oukei, mybie not.

Maar dis belangrik om te besef dat diere wel kan kommunikeer. Nie net met mekaar nie, maar ook met ons (wat in elk geval ook maar net koolstofgebaseerde lewensvorme is) . By ons viervoetige vriende is daar 'n mate van prosodie te bespeur: skop 'n hond en hy tjank – skop hom harder en hy tjank (of grom) harder.

Hierdie aanhaling, van ene R. B. Pragwat, slaan my dus dronk:

Vegetarianism is a voice for the voiceless. The voiceless are those who cannot speak for themselves, because they are meek and dumb. There are none less than our nearest and dearest brethren belonging to the animal kingdom. The Law of Providence has provided them with a very poor capacity for self-expression. [My klem]

(15th World Vegetarian Congress 1957)

Studies oor menslike kommunikasie deur Albert Mehrabian, 'n sielkundige van UCLA, toon aan dat gesproke woorde slegs verantwoordelik is vir sewe persent van kommunikatiewe betekenis. Tot vyf en vyftig persent van betekenis is nie-verbaal van oorsprong. Dit is daarom nie net wat jy sê nie, maar ook hoe jy iets sê, wat sin oordra. Volgens Mehrabian* lyk die anatomie van 'n (emosionele) boodskap so:

Anatomie van 'n boodskap

Die nie-verbale (paralinguistiese) faktore waarvan Mehrabian praat, is natuurlik lyftaal. Hoewel sy studie op mense van toepassing is, is parallelle met diere ooglopend. Diere ween, toon pyn of tevredenheid, stuur paringseine uit, is soms paniekerig, iesegrimmig of omgekrap. Elke tjank, pyngedrewe spasma of stert-tussen-die-bene op die vlug slaan van 'n dier is 'n uiters duidelike boodskap:

“Los my uit. Dis nie lekker as jy my slag nie. Ek wil nie in jou ongemaklike stukkies lap voor 'n skoupaneel paradeer nie. Jy het my tande uitgesny, nou pyn dit. Jou ossewa is swaar. Dis nie lekker om in 'n loopgraaf te val nie. Die sirkushoepel se vlamme brand. LOS MY F$#%$ BALEIN.”

Wat bedoel vegetariërs wanneer hulle sê hulle praat vir dié wat nie kan nie? Dat diere, wat teoreties tot 93% so effektief soos mense oor basiese behoeftes kan kommunikeer, nie hulle eie pyn en lyding kan bekendmaak nie? Is woorde nodig om te sê iets is nie lekker nie? (Het 'n krygsgevangene 'n tolk nodig om te bewys marteltegnieke maak seer?)

Miskien moet die fokus eerder skuif na mense se skynbare onwilligheid om ag te slaan op eenvoudige, woordelose boodskappe. En dit bring ons by 'n heel nuwe punt in die diskoers oor dieremishandeling, want die onvermoë om eenvoudige, kommunikatiewe seine verkeerd te verstaan of mis te kyk is so oud soos die mensdom self. Kan jy “oorlog” sê?

* Mehrabian, A. (1971). Silent messages. Wadsworth, Belmont, California.

(Ek weet – die kop van hierdie inskrywing is ietwat misleidend. Noem my 'n statshoer.)

This entry was posted in Mymering and tagged , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>