
Baie mense dink die sogenaamde Evangelical Pentacostal kerke is die kluts kwyt. 'n Karikatuur van hierdie kerke se deursnee gemeentelid is iemand wat nie vir hulleself kan dink nie – 'n skaap in 'n kolossale kraal vol skerms en ultramoderne klanktoerusting wat aan die neus rondgelei word deur predikers met fut en duur karre. Glossolalie, die vermoë om in tale te praat, is nagenoeg eie aan hierdie gemeentes. 'n Besoeker aan so 'n kerk kan hoogs emosionele, gillende – soms wriemelende – gemeentelede te wagte wees. Die begrippe “emosionele oorversadiging” en “euforie” jumps to mind.
Nou bid jou die volgende aan: 'n neuro-sielkundige studie van 2006 toon aan dat mense wat in tale spreek so waar as wragtig nié dink nie. Letterlik. Navorsers Newberg, Wintering en Morgan het bevind dat breinaktiwiteit tydens die beoefening van glossolalie (vreemde woord, ek weet) daal:
We observed decreased activity in the prefrontal cortices during the glossolalia state. This finding was clearly distinct from our previous study of meditation using the same imaging technique [...] Neuroimaging studies have also shown increased frontal lobe activity during attention-focusing tasks [...] It is interesting that the frontal lobes showed decreased perfusion during glossolalia, but this is consistent with the subjects’ description of a lack of intentional control over the performance of glossolalia.
Newberg en kie is die eerste navorsers wat breinaktiwiteit tydens 'n sogenaamde geestelike ervaring probeer meet – in hulle akademiese data-arsenaal is daar ook 'n studie oor meditasie. Berig die New York Times: “The new findings contrasted sharply with images taken of other spiritually inspired mental states like meditation, which is often a highly focused mental exercise, activating the frontal lobes.”
In die verlede het ek gedink dis effens ongeskik om sommer te sê iemand kan nie vir hulleself dink nie. Tot my spyt moet ek bieg dat ek dit ook van tyd tot tyd doen. Twee van my gunsteling bloggers, Carien en Pienk Zuit, het ook al soortgelyke opmerkings gemaak en selfs die sagmoedige Bertus! het 'n indrukwekkende reeks ad hominem-argumente teen kreasioniste geloods. Nou, ironies genoeg, begin ek wonder of die afwesigheid van denke die basis vir 'n belediging kan wees om mee te begin. Ek het ook gedink tale spreek is niks meer as opgemaakte, fonemiese parafrases nie (lees: snert). Nou begin ek wonder.
(Ek sê geensins met hierdie inskrywing dat charismatiese Christene dom is nie.)