‘n Sesdag skepping getuig kwalik van God se grootsheid, almag, prag of wat die mensdom ookal aan Haar probeer toedig.
Gestel die aarde is sesduisend jaar gelede geskep. Dit beteken die planeet is rofweg (6000 x 365) + (6000 / 4) = 2191500 dae oud. (Die tweede hakie is my oningeligte poging om skrikkeljare te probeer bylas.) As die totale standkoming van die planeet in ses dae plaasgevind het, is die oorspronklike skepping daarvan niks minder as 'n storm in 'n onsettende groot teekoppie nie.
‘n Skepping soos dit in Genesis beskryf word – die aanmekaar praat van koolstofgebaseerde lewe op 'n rotsbol – klink dalk indrukwekkend met die eerste oogopslag. Maar dis omdat ons klein is. Onsettend, ongoddelik, onmeetlik klein. Om die begrip “nietig” te gebruik om ons te probeer beskryf, grens eintlik aan die absurde. Selfs dit laat ons nog te groot lyk.
Sodra die heelal in perspektief beskou word, begin 'n mens besef presies hoe onbelangrik en irrelevant iets soos 'n sesdag skepping werklik is. As iemand op Alpha Centauri A (een van die naaste sterre aan die aarde) kon piekniek hou ongeveer 2191500 dae gelede en in die algemene rigting van die aarde kyk, sou hy na alle waarskynlikheid nie eers 'n flikker gesien het tydens die vermeende tot standkoming van lewe nie. Binne die onbeskryflike Niet waarin ons dryf is 'n sesdag skepping niks minder as 'n poep in 'n donderstorm nie.
Nah, my common sense sê vir my God is veel magtiger, veel intelligenter – Haar skepping veel meer grandioos en verbysterend – as die heelal inderdaad biljoene jare oud is en ons tydsaam ingeslenter het saam met die res van die Niet in die grootse wonderwerk wat die heelal nog ooit gesien het. Die heelal self.