Oop brief aan Kurt Darren

Luister (dit is uiters noodsaaklik) Cake se Satan Is My Motor terwyl jy dit lees.

Beste Kurt

‘n Klein herrie in 'n harem het losgebreek in die Afrikaanse musiekbedryf. Die rede? “Afrikaanse kunstenaars” (hoe verpes ek daardie laaste woordjie nie) sing nie by die jaarlikse 46664 konsert nie. Maar dit weet jy, want in 'n onderhoud met Die Burger vra jy: “Ek het niks teen dié wat wel gekies is nie, maar waar is jou Hofmeyr, Jordaan of Chameleon op dié lys?” Ek weet nie, Kurt. Wat moet hulle daar maak?

Dis 'n rockshow.

Beskou asseblief die volgende:

  1. Soos bloed [skoon kitaarakkoord] so is jy [skoon kitaarakkoord] vir my…
  2. Dis net 'n vrot pampoen [goedkoop synth] en 'n stukkende skoen [goedkoop synth]

‘n Rockshow (glo my, dit is 'n rockshow – rappers en backtrackers is in die minderheid) is van nature anti-establishment. 46664 is nie vreeslik rebels nie, maar dis tog 'n poging om téén VIGS te sing. Wat gaan 'n vrot pampoen daarnatoe bydra? (Wat meer as ironie gaan “Soos bloed” toevoeg?) Rockshows is raserig. Daar is groot luidsprekers en baie instrumente. Goedkoop synth of clean acoustics met vervelige drums en 'n arme elektriese kitaar wat in die agtergrond verdrink, hoort nie daar nie.

In beginsel het jy 'n punt beet. Die probleem is dat jou sogenaamde “Afrikaanse kunstenaars”, wat finansiëel sterk genoeg is om deur Real Concerts raakgesien te word (en daarom al is wat deur Real Concerts raakgesien word), vol goedkoop geluide is wat nie by so iets hoort nie. As jy werklik deernis vir Afrikaanse musiek het – nie net die soort wat op jou nismark teer nie – vra dan eerder waar die Afrikaanses is wat werklik by 46664 hoort. Vra waar die rockers is.

Waar is jou Van Coke Kartel, Zinkplaat en Foto Na Dans? Jou Karen Zoid, Jan Blohm en Gert Vlok Nel? Valiant? Hel, waar is Rikku Latti?

Kan jy mense sien crowdsurf op Steve Hofmeyr?

Die eenvoudige antwoord op jou vrae, Kurt, is dat julle nie daar pas nie. Real Concerts soek Hemel op die platteland, nie Hemel op Tafelberg nie. Maak vrede daarmee.

Vriendelike groete

‘n Rockaanhanger

n.s – Jy sal oplet dat ek vir Chris Chameleon uitgelaat het. Ek dink nie hy hoort op jou lysie nie.

This entry was posted in Musiek and tagged , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>