Ah, soveel reaksies. Dit maak my hart warmer as die Skatlam in Mosselbaai. Amper. So kom ek analiseer die SMS vir julle:
Staan saam en boikot Sterkinekor wat Golden Compass wys. Die eerste sin is 'n oproep tot verset teen 'n Suid-Afrikaanse filmteatermaatskappy (lang woord, eh?) wat 'n fliek van New Line Cinema vertoon. Niks vreemd hier nie, behalwe dat wie ook al die SMS getik het moontlik sukkel met Engels. Let op die afwesigheid van die bepaalde lidwoord “The”.
'n Fliek waarin 2 kinders God doodmaak sodat hul kan doen wat hul wil. Soos gewoonlik die geval is met kettingbriewe is hierdie sin uiters vaag, aangesien die name van die karakters nie verskaf word nie. Die enigste kinders in die film wat werklik optree as fokalisators is Lyra Belacqua (die protagonis), Billy Costa en Roger Parslow. Billy Costa pleeg nie 'n moord nie – hy word eerder op 'n unieke manier “vermoor”. Roger Parslow pleeg ook nie 'n moord nie, maar word eerder ontvoer en gevange gehou by Bolvanger. En Lyra Belacqua pleeg self nie 'n moord nie – tewens, aan die begin van die fliek verhoed sy dat Lord Asriel vergiftigde wyn drink en red sodoende sy lewe. Die res van die vele kinders in die film hardloop rond in velde en sit aan by wit-gedekte etenstafels. Geen godsmoord daar nie. En God? God kom nêrens in die film voor nie. Daar word nie eers indirek verwysings na Hom gemaak nie.
Dit terwyl ons Jesus se geboorte vier! Jesus se geboorte word tradisioneel op die 25ste Desember gevier. Terwyl ek hierdie inskrywing tik, is dit 14 Desember 2007. The Golden Compass is op 5 Desember 2007 vrygestel. Kersfees is 24 uur lank. Die dae voor Kersfees waarop The Golden Compass sal speel, is altesaam 600 ure lank; die dae daarna maak hierdie getal bloot groter. Die enigste manier waarop hierdie sin enigsins aanspraak kan maak op juistheid, is as Jesus se geboorte gevier word deur vroegtydige Kapitalisme en winkelliggies.
Rapport het geluister. As ons saamstaan sal Sterkinekor ook moet luister! Dit klink lekker, né? Ons het die mag. Maar dis 'n leuen. Die SMS is in Afrikaans. Diegene wat opgeroep word tot kollektiewe verset is Afrikaans. Rapport is Afrikaans.
SterKinekor, The Golden Compass en duisende mense wat daarna gaan kyk…is nie.
Stuur asb aan soveel mense as moontlik. Hoekom? Sodat 'n leuen versprei kan word onder die dekmantel van 'n godsdiens wat leuens juis nie aanstaan nie?
As jy die SMS aangestuur het sonder om die film te gaan kyk, het die oningeligte massas vir jou gedink. As jy die SMS aangestuur het en wel die film gaan kyk het, het jy nie die vermoë om tussen feit en fiksie te onderskei nie. In beide gevalle is jy dus, in my boekies in elk geval, taamlik breindood en het jy God in die oë van nie-Christene pretty much self vermoor.
The irony is killing me.
Ek sluit graag af met die woorde van die filmresensent Kevin Carr:
Rather than saying, “I wonder if the Magisterium is supposed to represent the modern Catholic church?,” sit on the edge of your seat and say “Wow! Two polar bears beating the shale out of each other. Cool!” I guarantee you’ll come out of the film a happier person.