Ek verkneukel myself in die manier hoe nuuskanale die wêreld vir hulle lesers opdis. Neem die manier hoe vanoggend se onderskeidelike nuusbriewe van News24 en Die Burger opsommend oor die ANC-verkiesing berig. News24 se oorhoofse nuusbrief meen:
ANC delegates start voting
Voting has finally begun for the top six positions in the leadership of the ANC after delegates settled on a list of nominations.
Plein en simpel. Die (myns insiens relevante) nuus – die land se leidende politieke party het begin stem vir 'n volgende leier. Goeie joernalistiek sonder oortollige emosie. Lees nou die Burger s’n:
ANC verskeur homself
‘n Politieke geveg sonder kompromis met mnr. Jacob Zuma as waarskynlike wenner, pres. Thabo Mbeki op die agtervoet en die ANC wat homself bloeddorstig verskeur, is besig om hom hier af te speel.
Niks oor die uiteindelike oorgaan na stemming word genoem nie. Eerder word die gebeure opgedis soos (so reken ek) Die Burger dink die Afrikaner dit wil hoor: Sowaar! Die swartes verskeur mekaar! (WTF?)
Adjektiewe is ook nie juis skaars nie- die politieke geveg is “sonder kompromis”, die huidige president is, soos 'n veglustige dier, “op die agtervoet” en die politieke party is besig om homself “bloeddorstig” te verskeur. Bowenal word dit soos 'n sepie opgedis wat “besig [is] om hier af te speel”. (Waar is hier?)
Die News24 artikel beskryf die prosesse wat gelei het tot stemming. Die Burger s’n beskryf bykomende gebeure asof dit die nuwe Huisgenoot probeer word, van iemand se kommentaar dat die sogenaamde Mbeki-poging “die laaste stuiptrekkings van 'n sterwende perd” is tot 'n storie oor 'n misverstand tussen beamptes en joernaliste wat hulle toerusting van die reën wou beskerm.
Wat sê dit vir jou? Die wit volkie hier in die Wes-Kaap (met sy Afrikaanse universiteit en sy welvarende wit woonbuurte) kry die gerusstellende sensasie wat hy soek in sy koerant. En wat sê dit vir jou? Transformasie en bemagtiging deur Afrikaans het dalk nog 'n vervlakse lang pad om te loop.
Eish.
Die meer sensasionele aspekte van die verkiesing is natuurlik steeds nuus en verdien as sodanig seker om in een of ander vorm oorvertel te word. Wat my laat kopkrap, is die manier hoe dit in Die Burger vervleg word met ander gebeure as die mees relevante nuus. As jou teenreaksie is dat so iets (die ANC wat skeur) juis relevant is vir Afrikaanse lesers, moet ek jou ongelukkig meedeel dat jy 'n rassis is.