Stick it to the man

Blogs, dink ek, is een van die beste dinge nog wat met Afrikaners kon gebeur.

Die hoeveelheid Afrikaanssprekendes wat die afgelope jaar begin blog het, is verstommend. Op WordPress.com alleen is daar 'n diverse gros inskrywings wat strek van resepte vir vegetariese toebroodjies tot in diepte gesprekke oor identiteit en die sin al dan nie van die mens se bestaan. Herhaaldelik maak mense stem dik oor sake wat hulle na aan die hart lê en (en dis natuurlik waar bloggers van maniese straatpredikers verskil) ander luister.

Nie dat almal altyd saamstem nie. Debatte word partymaal tot uiterstes gevoer en gemoedere loop soms hoog. Soos MoorDaBlokMossel altyd sê – daar is min met die fut van 'n blogger.

In 'n tyd waar audiovisuele vermaak die botoon voer, blyk dit dat baie Afrikaners opnuut begin lees. Nou net met 'n effe postmodernistiese kink – hulle lees mekaar. En dis ook nie juis asof almal “slegte” skrywers is nie. Sommige bloggers is nogal behendig met Die Taal.

Die voordeel hiervan is natuurlik dat die onvaardiges by die vaardiges kan leer. (En nou praat ons nog nie eers van die uitruil van idees nie. Nog nooit, myns insiens, het Afrikaners so 'n snelle kruisbestuiwing van idees beleef as op die blogosfeer nie.)

Iewers gaan iemand seker ingryp en begin geld maak uit die hele storie. Ek hoop dat, wanneer daardie dag kom, bloggers nie hulle integriteit sal verloor nie. Ek hoop dat daai vonkie van onafhanklikheid, van kraai op jou eie mishoop, wat talle bloggers inspireer om te begin skryf, nooit ten volle gedikteer sal word deur geld nie. Soos 'n bekende blogger en vriend een keer gesê het – blogs moet anargisties bly.

Stick it to the man in 2008, my liefste Afrikaners. Stick it to the man.

This entry was posted in Blogging and tagged , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>