'n Universiteitstudentjie met 'n graad of twee weet alles. Álles. Hy weet hoe om die wêreld 'n beter plek te maak en gewigtige sake (soos hoe om in 'n dameskoshuis se quad te piepie sonder om gevang te word) moeiteloos op te los met net die regte hoeveelheid bier. Hy’s vindingryker as Macgyver, slimmer as Einstein, welseggender as Cicero en begryp op 'n haar wat die lewe behels. Tot hy sy meisie se ouers moet ontmoet.
Al die essays in die wêreld kan jou nie hiervoor voorberei nie. Jou kennis van letterkunde en filosofie (of miskien die vermoë om ingewikkelde integrale baas te raak) beteken weinig wanneer jy selfvoldaan jou hand uitsteek en sê:
“Hallo, Oom, ek is Johan”.
“Dawie Griessel.” Hy verdwyn by die kombuisdeur in.
Vervlaks. Jy moes jou van bygesê het. Jou woordeskat (wat pêrels soos “esbattement” en “estivasie” insluit) beteken nou minder as die vuur wat jy netnou nie aan die gang kon kry nie. Dalk is dit goed dat jy nie “Oom se dogter is in goeie hande,” bygevoeg het nie. Jy’t hulle dalk net verloor.
“Moenie worry nie,” stel sy jou vooraf gerus, “my pa is baie nice. Hy’s cool; hy kan 'n grap vat. My ma is die kwaai een.” Maar sy is nie. Die tannie is die vredeliewendste mens op aarde. En die oom loer na jou asof jy 'n gewoontemisdadiger is.
Dan een aand staan julle alleen om die etenstafel. Jy. En die oom. Alleen. En dan slyp hy twee groot messe teenmekaar asof dit vir die lamsboud op die tafel bedoel is. Jy sluk swaar en onthou skielik dat hy gewere het. Wanneer julle aansit, sit jy om die een of ander obskure rede die naaste aan hom.
In space, no one can hear you scream. Hulle woon buite Mosselbaai op 'n heuwel. Hier’s baie spasie…
Terwyl julle buite by die vuur (die een wat jy nie kon maak nie) gesit het, het die oom die hoender verbrand. Jy probeer nie te veel daarvan inskep nie – netnou dink hulle jy is 'n vraat. Na al die renonsies wat jy met jou meisie gehad het oor hoe jy soms eerder met jou hande eet en dit nie nodig is om alles in klein stukkies te sny nie, kerf jy elke liewe happie flenters. Vanaand het jy maniere.
Hy kyk vir jou!
O hel, wat nou? Komplimenteer die tannie. Sê vir haar die kos is lekker. “Die kos is heerlik, tannie!” Haar dogter se hand op jou been is lekkerder, maar dít kan jy ongelukkig nie sê nie. Dis aand. Niemand gaan die skote hoor nie.
Jy kyk na jou meisie. Sy glimlag:
“Ma, Johan het die hoender verbrand”.
Verraaier! Dink sy dis snaaks?! Jy sien al hoe dam die vredeliewende tannie jou by met 'n kombuisimpliment. Xolisa! Pax Mosselbania! Senuagtig kerf jy die vleis in jou bord en loer na die oom. En wonder bo wonder – daar speel 'n glimlag om sy mondhoeke. Die hand op jou been voel skielik gerusstellend. “My pa kan 'n grap vat,” onthou jy.
Jy sny stadiger en glimlag. Maar nie te erg nie. Daar’s bokhael hier iewers…