Ek het met gemengde gevoelens begin luister na Van Coke Kartel se debuut. Moet hulle nie met Fokofpolisiekar vergelyk nie, het ek vir myself gesê, dis onregverdig. Moet hulle ook nie met aKing vergelyk nie, dis selfs nog meer onregverdig. Gee hulle 'n kans.
Aan die ander kant kon ek nie help om hulle album te beleef as Fokofpolisiekar met 'n ander naam nie – my (steeds) gunsteling Afrikaanse musiekgroep minus die intelligente komponeerder en liriekskrywer wat die wonderlikste musiek gemaak het waarna ek steeds gereeld luister.
As 'n mens Van Coke Kartel met Fokofpolisiekar vergelyk, faal hulle om vanselfsprekende redes liederlik. Die vraag, reken ek, is daarom nie of hulle soos Fokofpolisiekar klink nie (hoewel daar 'n definitiewe invloed is), maar of hulle as 'n Afrikaanse (punk?)rockgroep kers kan vashou by die huidige ontwikkelinge in die bedryf. Is hulle revolusionêr, middelmatig of uiters sleg?
Ek gaan hulle ten minste nog so drie keer deurluister. Hou hierdie spasie dop.
‘n Bietjie agtergrondinligting vir diegene wat nie weet nie – in 2007 het die lede van Fokofpolisiekar op 'n onbepaalde hiaat gegaan en soloprojekte aangepak. Francois van Coke (stem) en Wynand Myburgh (baskitaar) het Van Coke Kartel gevorm, terwyl Hunter Kennedy (kitaar en lirieke) en Jaco Venter (dromme) nou deel uitmaak van aKing. Kennedy het onlangs ook 'n bykomende projek – Die Heuwels Fantasties, aangekondig.