Ek was onlangs saam met Bertus! en Hugo by die Freethinking Maties se Darwin-gedenkdag, waar 'n dokumentêr oor Charles Darwin se lewe vertoon is. Benewens die soms ondergemiddelde toneelspel (in dele waar aangedikte staaltjies oor Darwin se lewe geënsceneer is) was die een ding wat my gepla het die manier hoe die kampus se “vrydenkers” klakkeloos na 'n skerm gestaar het asof dit Jesus self was. Dit was soos Faith Like Potatoes vir nie-teïste.
Tewens, die film was soos 'n erediens. Elke grappie, hoe flou ook al, is met hartlike lagbuie begroet. Die meerderheid van die wetenskaplikes waarmee daar tussen sketse onderhoude gevoer is, het woorde soos: “we can be almost certain” en “we believe” gebruik. (Dit sluit Stephen Jay Gould in.) Daar was 'n massiewe klomp onlogiese stellings in die dokumentêr, sowel as 'n amper irrelevante verskyning, as ‘t ware 'n anomalie, deur 'n katolieke, evolusionêre bioloog.
In 'n neutedop was dit 'n middelmatige film wat, sou ek 'n anti-evolusionis met 'n kritiese ingesteldheid wees (ek is seker daar is 'n paar van hulle daarbuite), my glad nie van die teendeel sou oortuig nie. Tog het die Freethinking Maties die film verslind as 'n soort preek. 'n Gedenkdiens. (Of so het dit gelyk, in elk geval.) Die atmosfeer van die hele affêre was een van godsdienstige getrouheid aan 'n vasgestelde klomp idees. Van ware vrydinkery was daar nie veel sprake nie.
Nodeloos om te sê het ek en my medebloggers dit taamlik amusant gevind.
As daar ooit 'n kans was dat ek by die Freethinking Maties sou aansluit, is dit nou spoorloos. Ek dink hulle kan gerus hulle naam verander na Ateïste Anoniem – dit sal ten minste eerlik wees.
Ontkenningsklousule: As jy in hierdie inskrywing 'n mening vir of teen evolusie / ateïsme sien, lees jy my verkeerd. Die kwessie hier is skynheiligheid.