Sewende traan?

As jy kla oor Sewende Laan se storielyn, toneelspel, relevansie tot hoegenaamd enigiets of korrelasie met die werklikheid, het Danie Odendaal en kie jou reeds so gebreinponkie (Engels: mindfuck) dat jy teen ‘n storm praat. Want dan mis jy die punt.

Sewende Laan het middelmatige toneelspel, maar dis nie omdat die akteurs sleg is nie – baie van hulle skitter behoorlik (sien, ek kan ook soos Patricia Lewis praat) op ‘n verhoog. Wanneer laas het jy ‘n Sewende Laan-akteur op die planke gesien? Hulle is nie so vrot soos wat jy dink hulle is nie. Nee, die toneelspel is middelmatig omdat die karakters prototipes is. Dis ‘n klasieke geval van stock characters; nie veel meer as rudimentêre emosies is nodig om hulle uit te beeld nie.

Sewende Laan het nie ‘n baanbrekende storielyn nie, maar jy mors jou asem as jy dit kritiseer. Karakters bly voor die kameras omdat kykers van hulle hou – as hulle aanbly is die volgende logiese stap tog dat daar van tyd tot tyd dinge met hulle gebeur. Wat laat jy met stock characters gebeur? Jy sit hulle in voorspelbare situasies wat hulle toelaat om variasies van voorspelbare reaksies uit te leef. Maak nie saak wat die konteks is nie, Oubaas sal verbasterde spoonerismes pleeg, Paula sal dink sy is die kat se snorbaarde en Madel Terreblanche sal Waenhuiskrans toe vlug om haar kop skoon te kry. Die noodwendige nadraai hiervan is ‘n futlose storielyn.

Sewende Laan het geen korrelasie met die werklikheid het nie. Dit kan nie, want dit het nie regte mense met regte stories nie. Om dit te kritiseer is soos om ‘n berg te kritiseer. Sinneloos. Dit help nie jy soek diepte in die vlak kant van die swembad nie. (Dis eers wanneer vervaardigers begin voorgee dat dit meer as ‘n sepie is – wanneer die formule aandring daarop dat dit heimlik avant garde is – wat jy met reg kan begin kritiek lewer.)

Afrikaanse sepies is op standaard met oorsese produksies. As jy regtig iets wil kritiseer, begin eerder by die Afrikaanse dramas wat deesdae op televisie is. Het ons ekwivalente vir Prison Break en Scrubs? Desperate Housewives? My Name is Earl? Numb3rs? Weeds? Rome? Het ons dalk iets beters? Of hinkepink ons agter ‘n standaard aan wat ons nie kan bereik nie?

Los vir Danie. Die “moet hulle sulke gemors in ons kele afdruk?”-argument is nie relevant tot ‘n sepie nie.

Post to Twitter

This website uses IntenseDebate comments, but they are not currently loaded because either your browser doesn't support JavaScript, or they didn't load fast enough.

11 Responses to “Sewende traan?”

  1. wat is sewende laan!? :shock:

    Reply

  2. lol @ Sewende traan.
    Ons praat altyd van Skewende laan…

    Reply

  3. Waaragtag goed gesê Johan. Ekself beoordeel 7deLaan ook maar vir wat dit is…in baie van die sosiale wetenskappe is daar ‘n konsep “middle range theory” : die idee dat in ‘n gegewe stel idees (ens) ‘n groot boel daarvan binne ‘n middel-kontinuum sou val waar dit spreek tot bykans enige-een…hetsy positief of negatief….(en, bygesê, geensins ‘n aanduiding van die integriteit of geloofwaardigheid van die stel idees nie).
    Dis nou ‘n moerse pseudo-geleerde manier om eintlik te sê dat ek dink meeste mense het so ‘n lief-grief verhouding met die Laan…maar hulle sal bly kyk…want dit kry lêplek iewers in hulle.
    NS – is Petra noual dood na die motorongeluk? Daai bleddie Tiaan…die vabond!

    Reply

  4. Stem saam – goed gestel. As jy oor Sewende Laan kla, dan moet jy ook oor Bold and the Beautiful en The Days of our Lives kla (uhm… daar is ‘n deel van my verlede waaroor ek nie graag praat nie.) Maar wat is die verskoning vir die ander gemors wat op Afrikaanse TV aangebied word? Kyknet is een van daai kanale op DStv wat ek nie eers vinnig by stop as ek surf nie. Want jy weet daar is niks.

    Reply

  5. Ek “ken” toevallig iemand wat op 7de Laan se skryf span is. Of so iets. Sal ek die link van hierdie post vir haar aanstuur?

    Reply

  6. ….gebreinponkie….aijajaijajai! :-) !

    Reply

  7. Ek sal nooit weer inky pinky ponkie kan se^ nie.

    Reply

  8. Die scary ding is egter dat 7de Laan waarskynlik die diep kan van die Afrikaanse TV-swembad is.
    Johan Du Bois-Swarts, beoog jy ‘n loopbaan as sepieskrywer?

    Reply

  9. My kommentaar, so kort duskant 4 maande gelede:
    http://mykopop.wordpress.com/2007/11/06/oom-oubaas-en-die-groot-wekker/
    (veral die eerste en laaste paragrawe het betrekking)

    Het die wekker nou afgegaan of wat? Nee kyk, vir my werk die sepie-konsep net nie. ‘n Storie moet klaar geskryf wees, ‘n kunswerk op sy eie, dan word die rolverdeling gedoen, nie soos die hier gedoen word nie. Ongelukkig is ek in ‘n situasie waar ek dit daagliks moet aanskou, maar as hy ooit eendag ophou sal ek my nie weer so laat vang nie.

    Reply

  10. Goed opgesom – ek stem!

    Reply

  11. Tja, mens gaan eet nie by ‘n pizza-plek en vra vir ‘n souffle nie. Stem saam. Ek kyk 7de Laan wanneer my kinders my toelaat. Wat maar min is as mens aanvaar 17:00-19:00 is “gripe hour(s)” in ‘n huis met babas en klein kindertjies. Ek kan gewoonlik die storielyn binne sekondes weer opvang na ek dit vir twee of drie maande glad nie gekyk het nie. Daar is seker erger maniere om ‘n halfuur van jou aand te spandeer, maar dit bly ligte vermaak en dis al.

    Reply

Leave a Reply

CommentLuv Enabled