Bekgeveggie #2 – Wys jou muis

(Liewe leser: as jy nie verstaan wat ek skryf nie, lees gerus hier, hier en hier.)

Beste Frank

Kyk hoe fulmineer jy, my vriend. Dit hoef nie so te wees nie. Dis tog eenvoudig om my vermoede oor jou trefslae te kelder – wys ons jou muis. Jy is vriendelik gevra om, in die publieke belang, 'n diskrepansie te verduidelik, nie om jou persoonlike lewe of die seksgewoontes van jou internetbediener se TCP/IP protokol bloot te lê nie. Bygesê, ek is nie bewus van 'n komplot teen Daaglikse Dosis se kommersiële sukses nie. As daar een is, hoop ek jy kan die swerkaters wat jou sukses met pypbomme probeer uitwis, vastrek.

Mits jy eerlik is.

Die afgelope paar dae het ek my kommer uitgespreek oor 'n moontlike vorm van bedrog wat oop en bloot gepleeg word. Omdat jy tot dusver nog nie die begripsvermoë van 'n matrikulant ten toon stel nie, sal ek dit weer aan jou verduidelik. Ons begin met drie, eenvoudige premisse:

  1. Jy beweer dat duskant 300 000 mense (hulle het duskant 600 000 ore en 3 miljoen tone) maandeliks jou blog besoek.
  2. Jou blog se eie statcounter dui aan dat 'n gemiddeld van minder as 9000 mense per maand jou blog besoek.
  3. ‘n Statcounter is 'n akkurate meting van die aantal trefslae, uniek of andersins, wat 'n webtuiste ontvang.

Wat ons in 'n sillogisme omskep:

Stelling 1. Frank Botha het 300 000 maandelikse besoekers

Stelling 2. Frank Botha se statcounter vertoon nie 300 000 maandelikse besoekers nie

Konklusies:

x Frank Botha het nie 300 000 maandelikse besoekers nie

y Frank Botha se statcounter is gebreek.

Premis #3 kanselleer konklusie y. Ons bly oor met konklusie x: “Frank Botha het nie 300 000 maandelikse besoekers nie.” Verdere afleidings:

  1. Frank Botha ken nie die verskil tussen hits en unique hits nie.
  2. Frank Botha pleeg openlik bedrog.
  3. (Hierdie een is onwaarskynlik, maar ek gaan hom volledigheidshalwe insit:) Frank Botha se statcounter is besete met 'n kwaadwillige impotensiedemoon.

Ek wag rustig op 'n beskaafde oplossing vir hierdie probleem van jou kant af. Graag verfris ek jou geheue:

…Daarom terug na die diskoers wat ek met die heel eerste sin van hierdie inskrywing begin het:

Frank – verduidelik asseblief?

(Swarts 2008: Bekgeveggie #1: Frank Botha, leunaar?)

Dit kan nie moeilik wees nie, maar vra gerus as jy iets steeds nie verstaan nie.

Vriendelike groete

Johan

n.s – Van die os op die jas. Jy noem jou “teenstanders” snotkoppe omdat hulle lank ná jou begin blog het. Graag stel ek jou in kennis dat ek 'n hele paar maande voor Oktober 2006 begin blog het. Beter selfs: ikone soos Salige Rus, Die Pienk Zuit, Lammervanger en vele ander het reeds etlike maande voor my begin. Bloute, hoewel hy nou stil is, het reeds meer as ses jaar gelede begin blog.

This entry was posted in Blogging and tagged , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>