[1 van 3]
In 'n onlangse artikel oor die Kovsie-insident skryf Max du Preez:
Daar is 'n genadelose aanslag om ons van ons taal te beroof, hoor ons en lees ons byna elke dag die laaste paar jaar.
En tog blom Afrikaanse musiek soos nooit tevore nie en gaan dit baie goed met Afrikaanse koerante en tydskrifte, die Afrikaanse radio en Afrikaanse televisiekanale. Relatief tot die aantal mense wat dit praat, het Afrikaans seker die grootste voetspoor ter wêreld op die internet naas Engels. [My klem]
Meer in die kol oor die plaaslike musiektoneel kan Du Preez nie wees nie. Hel, dit blom nie, dit ontplof. Daar is tans 'n swetterjoel karaokekunstenaars (‘n paradoks, dalk?) as ooit tevore en dis, op 'n manier, goed. Dis egter nie al nie. Die Afrikaanse rocktoneel (aangevuur deur 'n klaarblyklik nimmereindige groei in groepe en aanhangers) is besig om soos 'n eskader steenwerkers op die nasie neer te sak.
Rock in Suid-Afrika is soos id Software se baanbrekende rekenaarspeletjies in Amerika. Nes die ontwikkeling van ingewikkelde grafika die ontwikkeling van beter hardeware dryf, só dryf Afrikaanse rock industriestandaarde wanneer dit by klankopname, die verfilming van musiekvideos, beligting en 'n rits ander dinge kom.
(As ek die term “rock” gebruik, sluit dit verskeie afstammelinge van die genre in: metal, punk, indie, poprock etcetera.)
Dis eenvoudig. Verbeel jouself 'n karaokekunstenaar (ek weet, dis regtig 'n paradoks…) in 'n ateljee. Om ekonomiese redes is jou begeleiding met die minste moeite (soms met die minimum instrumentasie) moontlik vervaardig. Jy staan voor 'n mikrofoon, vryf die oorfone op jou kop en wag vir die musiek om te speel. Vir 'n paar ure maak jy jou stem dik. Dan verlaat jy die ateljee en gaan koop Macdonalds. Iemand agter 'n rekenaar gooi die opnames oor die begeleiding, peuter 'n bietjie met equalisation en siedaar – 'n supertreffer.
Jippie.
Verbeel jouself nou in 'n standaard rockband met, sê, so twee elektriese kitare, 'n baskitaar en 'n dromstel. As die ouens in jou groep hulle sout werd is, soek hulle elkeen 'n eie, unieke klank. Die kitaarspelers vroetel en verstel hulle amps. Daar word besluit oor effects; gepeuter met reverb hier, 'n flanger daar, minder gain in die pre-amp en dies meer. Die dromspeler en die vervaardiger verstel snaredrums, speel rond met mikrofone, compress hier, hard limit daar en kry die regte klank vir die dromme. Die baskitaarspeler drink bier, eet pizza en oorweeg Moog Synth. Elkeen track hulle parte waaraan hulle (hopelik, want ateljeetyd is duur) hard geoefen het.
Die moeite en bekwaamheid wat nodig is om laasgenoemde musiek te vervaardig, is aansienlik meer as eersgenoemde. 'n Mens sou seker kon argumenteer dat backtracks ook opgeneem moet word en dat dit ook 'n mate van instrumentaliteit vereis, maar dis myns insiens 'n irrelevante argument. Karaoke werk met formules – sodra die formule werk, sukkel jy nie met hom nie. Ek twyfel byvoorbeeld of session guitarists ure spandeer aan die regte kitaarklank vir 'n album waar hulle instrument soms so sag gesit gaan word dat hulle amper irrelevant raak.
Dieselfde logika kan van toepassing gemaak word op musiekvideos en beligting. Hoewel die standaard van Afrikaanse musiekvideos aansienlik verbeter het sedert hierdie inskrywing (die industrie verdien sonder twyfel 'n pluimpie vir die afgelope jaar of wat se vordering), wil dit voorkom asof ander genres steeds aan die kortste ent trek wat musiekvideos aanbetref. Vergelyk gerus Foto Na Dans, aKing en Van Coke Kartel se nuutstes met die’s van ouens soos Jurie Els en Kurt Darren. (Ek meen nie laasgenoemdes is sleg nie; eerder dat eersgenoemdes tans die oorhand het.)
Beligting by vertonings is deesdae omtrent orals op standaard, maar rock s’n is, juis vanweë die skouspelagtige aard daarvan, bloot beter. Vergelyk gerus Huisgenoot se Skouspel met Ramfest. Beide is op standaard, maar Ramfest wen loshande in terme van kreatiwiteit en onmiddelike sensitiwiteit vir regstreekse musiek. (As jy nie oortuig is nie, wag 'n paar maande en skaf beide die Ramfest 2008 DVD en die nuutste Skouspel aan.)
Wat het al hierdie dinge met die prys van eiers uit te waai?
Dit mag dalk nie almal se gunsteling musiek wees nie, maar dis 'n feit soos 'n koei: rock verskuif grense. (Ek gaan 'n raaiskoot waag en postuleer dat, sonder die progressiewe ontwikkeling wat rock meebring, Afrikaanse albums veel meer power sou klink as wat vandag die geval is. But don’t quote me on that.) Die huidige situasie by Kovsies wys duidelik hoe broodnodig grensverskuiwing vir sommige Suid-Afrikaners is. In Kovsies se geval is dit beide fisiese en kognitiewe grense: om saam met iemand in te trek moet jy immers jou tas pak én jou kop herrangskik.
Dis natuurlik naïef om te dink 'n paar rocktreffers gaan alle Suid-Afrikaners skielik saamsnoer (meer hieroor in 'n volgende aflewering), maar die essensie van die musiek – 'n verset teen die stagnante status quo – is iets wat broodnodig in sommige landsburgers se koppe ingestamp moet word. Dis makliker om 'n kopskuif teen rassisme te begin maak as jy jou gunsteling braaivleis- en sokkietreffers vervang met Fokofpolisiekar (en kie), want Fokofpolisiekar (en kie) sing téén die soort mentaliteit wat walgvideos veroorsaak en privaatpersele vandaliseer.
Kovsies beter vinnig begin “rock”. 'n Braaivleisvuur kan net so lank brand.