[2 van 3]
Dalk strydig met die vorige aflewering is Afrikaanse rock eintlik 'n rykmanspel – die musiek van die bourgeoisie.
Om 'n rockgroep te onderhou vereis aansienlik meer geld as, byvoorbeeld, 'n kwaitogroep. Kapitaal is nodig vir kitare (elkeen 'n paar duisend rand werd), kitaarversterkers (in sommige gevalle duurder as die kitare), ten minste een baskitaar ('n aansienlike bedrag), 'n baskitaarversterker (duur, selfs al koop jy 'n kleintjie) en dromme (ook duisende rande). Elkeen het om die beurt verskeie instandhoudingskoste. Kitare moet nuwe snare kry. Dromstokkies breek. Valve amps se valves…wel…blaas.
Instrumente en toerusting moet ingevoer word, omdat Suid-Afrika nie ekwivalente vir name soos Ibanez, Fender, Perl en Tama het nie. (Ons het die AfriCan, maar dis ook maar dit.) Hierbenewens moet toerusting rondgekarwei word na gigs, wat voertuie en petrolgeld vereis. Voeg hierby 'n enorme kragtoevoer en die feit dat rock in wese 'n mengsel van anargisme en normbevraagtekening is en jy het 'n klinkklare resep vir rykmansmusiek. (Ryk, terloops, het 'n baie unieke betekenis in Suid-Afrika. As jy dit kan lees, dink ek, is jy “ryk”.)
Vergelyk dit met 'n plakkerskamp. Sonder hulp van buite sal 'n plakker onmoontlik die nodige toerusting kan bekostig om te begin rock. Sou hy dit regkry, sal die krag na alle waarskynlikheid sporadies uitskop (of erger) sodra alles ingeprop is. Indien hy dít kan regkry, is daar die probleem van 'n tekort aan venues. En as hierdie drie nagenoeg onmoontlik dinge wel vlot verloop, gaan die aspirant rocker in Nyanga, Langa of Khayamandi gekonfronteer word met 'n knaende verlies aan aanhangers.
Afrikaanse rockgroepe wat hulle milieu se norme bevraagteken, word tegelykertyd knus daardeur ondersteun. Neem Fokofpolisiekar. Met hulle eerste kortspeler, As jy met vuur speel, sal jy brand, het dié (destyds) kontroversiële vyftal grense verskuif vir Afrikaans. Groot grense. Vir die eerste keer in 'n lang tyd was daar 'n groep jong mans wat in Afrikaans gesing het – dalk sonder dat hulle dit self besef het – oor dinge soos eksistensiële angs, die “dood van God” en die toenemend irrelevante moraliteitsleer van hulle ouers. Die bekende reëls aan die einde van die eerste snit verklaar byvoorbeeld: “En ek skree God / maar dis niks werd nie / daar is iets beeldskoon in die donker nag.”
Fokofpolisiekar kon kla oor die kerk, die samelewing en 'n saai bestaan in suburbia omdat hulle, in vergelyking met die oorgrote meerderheid van die land, in werklikheid oorvloedig ryk was. Was Hunter Kennedy se ouers mynwerkers in Vosloorus, het ons nooit daardie woorde gesien het nie. Om die status quo te kritiseer soos rockbands dit doen, vereis dat jy eers (op ekonomiese vlak) 'n taamlik gemaklike lewe moet lei. Foto Na Dans, aKing, Kobus!, Baarmoedergevoel – al hierdie ouens het dakke oor hulle koppe en kos in hulle mae. Die samelewing wat hulle kritiseer is terselftertyd die platform waarop hulle gemaklik kan staan en sing. Dink aan Wynand Myburgh se berugte godslastering op 'n aanhanger se beursie, wat die situasie perfek opsom: Normdeurbreking. Op geld.
‘n Vriend het een keer aan my gesê dat die meeste Suid-Afrikaners bloot nog nie reg is vir iets soos ateïsme nie. Hulle is nog te arm daarvoor. Ek voeg graag my stem by hom: die meeste Suid-Afrikaners is by verre nog nie ryp vir die rebellie van rock nie, want hulle sosiale en ekonomiese omstandighede pas nog nie daarby in nie. Rock kritiseer eers ná ontwikkeling plaasgevind het.
Wat my nogal laat wonder: sal die hele land eendag kan “rock”?
Daar is uitsonderinge op alles wat ek skryf. Laat weet gerus as jy aan eniges kan dink.