Oor rock (en die evangelie van m0sh)

[3 van 3]

Vir die laaste aflewering het ek met verskeie idees rondgespeel, hoofsaaklik omdat ek myself in 'n verknorsing bevind het. Ek wou voortbou op die sentiment van die eerste inskrywing en skryf: rock is 'n inklusiewe genre. Salig rus ons snare.

‘Problem being: dit is nie. Nie heeltemal nie, in elk geval.

‘n Mens hoef maar net te dink aan die jarelange bekgevegte tussen bands en backtrackers (re: Anton Goosen en Steve Hofmeyr) om te besef dat rock nie so inklusief is soos wat dit mag voorkom nie. En wat 'n lieflike weerspreking sou dit nie wees as ek skryf oor 'n genre wat almal kwansuis aanvaar as ek skaars 'n paar dae gelede verkondig het dat hulle norms deurbreek en die status quo wil verflenter. Soos die wyse MoorDaBlokMossel sê: vermoor 'n koei en sy eienaar sal jou haat vir sesduisend jaar.

Rockers is soms net so agterbaks soos die karaokekunstenaars wie hulle van agterbaksheid beskuldig. Ek dink byvoorbeeld aan Francois van Coke wat 'n kampeerder se tafeltjie verwoes het, of Kobus! wat genadeloos tydens vertonings teen die “plegers” van sogenaamde super- en sokkietreffers uitvaar. Verdraagsaamheid gaan beide kante toe. (Of dit ooit ten volle bereik gaan word, twyfel ek eintlik. Dis winsgewend om 'n eensydige standpunt te koester en aanhangers te kry wat ook so voel.)

Tog verdien rock 'n klop op die skouer vir die solidariteit tussen aanhangers wat heers by vertonings. Meer spesifiek die solidariteit in Afrikaanse m0shpits. Vir die onkundiges: 'n m0shpit is 'n area, gewoonlik reg voor die verhoog, waar toeskouers “dans“. Eenvoudig gestel beteken dit dat jy rondspring, saamkoek en stamp sover as wat jy gaan. Vir dié wat dit wil waag, is dit katartiese chaos wat broodweinig elders ervaar kan word. Ek kan nie spekuleer oor oorsese m0shpits nie, maar dié wat ek al in Suid-Afrika ervaar het, spesifiek by Afrikaanse rockvertonings, het al van die hoflikste aanhangers opgelewer wat ek nog ooit teegekom het.

M0shpits is effens van 'n paradoks. Jy spring en stamp almal om jou, maar wil niemand seermaak of verontrief nie. As jy gestamp word, raak jy nie kwaad nie en stamp jy nie terug met die bedoeling om te beskadig nie. Soms is dit selfs gevaarlik, maar jy is vry, jy vrot na sweet en jy word aanvaar nes jy is. Dis 'n karnavaleske partytjie van groteske liggame wat 'n amorfe eenheid vorm sonder 'n snars diskriminasie. Tussen oorverdowende geluide, biervlekke en basnote wat vibreer in jou borskas, word jy 'n soort wedergeborene tussen wedergeborenes; beleef jy opnuut iets wat iemand lank gelede in jou breinlobbe vasgebrand het.

Tog jammer Sondagskooltannies noem dit geraas.

This entry was posted in Musiek and tagged , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>