Een van die dinge waaroor vanjaar se KKNK my aan die dink gesit het, is vegetarisme. (Ek blameer die Koedoeburgers.) Ek sal graag vir 'n dag of wat in rasionele gesprek wil tree met 'n vegetariër (en 'n vleiseter) of twee, aangesien daar vir my eienskappe van vegetarisme is wat slegs sinmaak binne 'n sekere lewensbeskouing.
Die ding is, ek het baie koedoeburgers geëet. En toe sommer eergisteraand by die skatlam gebraai. Die metroman wat ek is (raaaait…), het ek aangebied om die vuilwerk te doen – hout met 'n byl te breek, koerantpapier soos derms te knoop, vuurhoutjies in die wind aan te por. Terwyl ek daar gestaan en die rook verwens het, het 'n skoot bloed lewendig uit 'n stuk vleis geskiet. Dit het gesis soos slange in 'n smeltkroes en vir 'n oomblik het ek nie net besef nie, maar beleef, dat ek besig is om iets wat eens op 'n tyd gerespireer het se vlees te verhit.
Tog vreemd.
Ek weet nie of dit die soort ervaring is wat mense in vegetariërs verander nie. Wat ek wel weet, is dat dit tot 'n mate 'n weersprekende belewenis is, behalwe as jy 'n Christen (of 'n Moslem of 'n Jood) is. Behalwe as die heelal geskape is met mense as die kroon daarvan, kan ek nie sien hoekom enigiemand enigsins moreel verplig hoef te voel om nie 'n dier te eet nie.
Reklame en propoganda vir vegetarisme maak gewoonlik gebruik van 'n skoktaktiek – dit van wys hondjies en katjies (en koeitjies en hoendertjies en skapies) wat bloeiend aan hakke hang en brutaal rondgegooi word in slaghuise. Toegegee, dis nie 'n aangename ding om na te kyk nie, maar dit bly vir my vreemd dat daar nie soortgelyke beeldmateriaal van roofdiere gewys word wat herbivore verskeur nie. Was daar al vegetariërs met plakkate na die Kruger Wildtuin om te betoog teen die onmenslike behandeling van Springbokke? (Was Mike Stofile daar?)
Dis daai een woordjie wat pla. “Onmenslik”. Hoe, behalwe as 'n kreasionistiese standpunt ingeneem word, kan mense werklik aanspraak maak op die humanitêre behandeling van diere sonder om in 'n integriteitskrisis te verval? As mense diere is, is vegetarisme eintlik die dierlike behandeling van diere deur diere? Wat is menslike behandeling?
Ons het braaibroodjies ook gemaak.