Soms word 'n mens so opgevang in veralgemenings dat 'n mens dit begin glo. Dis ongelukkig hoe ons breine werk – ons kyk na fenomene, neem alles waarvan ons bewus is in ag en maak dan gevolgtrekkings wat soms gruwelik verkeerd is. Gevolgtrekkings soos: “die meeste moorde word deur swart mense gepleeg, swart mense is dus moordenaars”. Of: “behalwe vir Suid-Afrika se hoë misdaadsyfer, is daar nou ook 'n elektrisiteitstekort – die land gaan dus saam met Zimbabwe by die drein af”. Of: “Hoewel dit reeds veertien jaar na die eerste demokratiese verkiesing van 1994 is, het vier wit studente 'n paar swart skoonmakers verneder, so rasseverhoudinge is steeds uiters onstabiel”.
Party professionele veralgemeners gaan selfs 'n trappie verder en meen dat al hierdie dinge dui op 'n groot, onnoembare Iets wat Afrikaners se erfenis van die wal tot in die sloot wil help – 'n genadelose kultuurdier wat Africana so woes verskeur soos Komododrake laas vir Bertus Melk gekou het.
Ons moet iets doen!” dink hulle. En dan sien 'n mens sulke dinge:
(click om te vergroot)
Dis nie asof dat daar enigiets ongrondwetliks aan so 'n t-hemp is nie. Ek het toevallig my persoonlike oortuigings daaroor, maar dis ook nie nou ter sake nie. Die feit van die saak is dat so 'n kledingstuk sonder twyfel reaksie sal uitlok en baie van hulle op veralgemenings sal steun. Selfs 'n jaar ná die (volgens statistieke) berugte Aan die twat met die vlag op sy t-hemp-inskrywing, raai ek mense sal nagenoeg dieselfde reaksies toon as iemand weer iets sê wat vir hulle strydig met die behoud van hulle kultuur voorkom. En steeds wonder ek: Wat beteken daardie vlag vandag? Wat soek dit op daardie t-hemp? En hoekom sal iemand dit wil koop?
En is dit moontlik om sonder veralgemenings daaroor te redeneer?
