Dis nou reeds 'n geruime tyd ná die dwelmklopjagte op Stellenbosch. Na aanleiding van die baie klagtes, uitroepe van verontwaardiging en 'n optog op die Rooiplein, sou 'n mens 'n ongekende vasberadenheid onder studente verwag om misdieners van die gereg aan die pen te laat ry. So wat het hiervan geword?
Klaarblyklik nie veel nie. Dis asof studente net daarvan vergeet het. Sien jy mense op pad na Bohemia, mag terugflitse van lae kwaliteit flash video à la Die Burger-webtuiste en rillings in jou rugstring dalk voorkom; staan 'n polisieman voor jou in die ry by Pick & Pay mag jy dalk 'n entjie wegstaan. Dis 'n natuurlike oorlewingsmeganisme – niemand wil fisieke skade opdoen as dit verhoed kan word nie. Dankie, evolusie.
But I digress. Ons godvresende studentedorpie is nou ook skytpoliesbang (sê dit vinnig, dit klink cool), maar wat het van die verontwaardiging oorgebly? Van vasberade Maties wat petisies vir menseregte teken en na die Rooiplein stroom om die SR-voorsitter aan te hoor? Het daar enigiets gekom van die klagtes wat by die polisie ingedien is? Of het hierdie hele situasie maar net tussen studente-apatie en liters bier verdwyn? Die optrede van die polisie was ongetwyfeld ongevraagd. Dis ou nuus. Tog is daar iets anders van hierdie situasie wat bly pla.
Ek en 'n vriendin sit onlangs (op die stoep van 'n gebou wat nié 'n dranklisensie het nie) en gesels oor die klopjagte, en sy maak toe 'n baie geldige punt: Daar is soveel misdaad en ekonomiese ongelykheid op en om Stellenbosch, maar ons steur onsself klaarblyklik nie daaraan nie. Ja, hier en daar ry bussies vol studente tydens JOOL na voorheen benadeelde gebiede en gaan bou 'n groentetuin of verf 'n muur, maar in die breë lyk dit nie juis of studente bekommerd is oor die heropbou van 'n verdeelde en soms misdaadgeteisterde samelewing nie.
“It takes a few rich white kids being slapped around for us to mobilise around anything,” meen my vriendin oor die optog. En sy het 'n punt beet. Hoeveel optogte is gehou vir die verkragtings verlede jaar? Vir 'n dronk student wat in 2007 wéér uit Helshoogte geval het? Die Wilgenhoffers wat meisies destyds met 'n windbuks geskiet het? Die diefstal van potplante en padtekens? Of die naglewe in klubs wat steeds grotendeels gesegregeerd is? Krap dit studente nie eers 'n bietjie om dat beurse vir voorheen benadeeldes soms nie eers hul verblyf dek nie?
Die antwoord is eenvoudig (en hartseer): nee. Want dit traak ons nie. Daarom sal ons ook nie weet van die krisis in Darfoer, die situasie in Burma of die resessie in Amerika nie – laat staan nog enige plaaslike probleme. Te oordeel na die reaksies van studente is die grootste probleem die miskenning van óns menseregte. Óns wou kuier in óns klubs, óns is hardhandig behandel, daarom sal óns kapsie maak en 'n optog reël.
Dis tog o so onregverdig om rondgeruk te word met 'n shot nog halfpad in jou keel af. Maar laat een arme bergie nou net een keer aangerand word op die sypaadjie langs Bohemia, dan kyk ons anderpad, teug ons aan ons drankie en wens ons stilweg hulle kan net verdwyn. Dan is die einste menseregte en menswaardigheid waaroor daar so selfversekerd betoog is, skielik nie meer so dringend nie. Dan, op die godvresende dorpie met die skytpoliesbangerige inwoners en die omringende reste van apartheid, resoneer studente-apatie soos 'n Fokofpolisiekartreffer: “Daar’s nog baie bier / om te drink / en kak om te praat / voor ons die wêreld begin regmaak.”
Wat gaan uit die petisies en die verontwaardigde optog spruit?
Niks nie. Ons het mos nog bier.
(Ook hier beskikbaar)