Vergeet gou van hierdie sin. Dink baie hard daaraan, draai drie keer in die rondte en vergeet dit. Laat dit heeltemal gaan.
Moeilik, né?
Die woordjie “vergeet” is een van die vreemdste verbums in Afrikaans (of enige ander taal, wat dit aanbetref). Dit word geklassifiseer as 'n werkwoord, maar tree nie heeltemal so op nie. Daar is nie sprake van enige handeling nie – niks word uitgevoer of teweeggebring nie. Inteendeel, daar is 'n absolute afwesigheid van enige aksie hoegenaamd. Anders as meeste ander verbums (dink aan “retireer”, “fnuik”, “voeter”, “slier”) dui “vergeet” nie op aksie nie. Dis 'n verlies aan die funksies van werkwoorde soos “onthou” of “byval”. Dis nie handeling nie, maar die afwesigheid van handeling.
Jy kon nie die heel eerste sin van hierdie inskrywing vergeet nie, want om iets te vergeet, vereis dat jy nie daaraan dink nie (of 'n hou teen die kop). Om iets te lees is tog om daaraan te dink. Dis onjuis om iets bewustelik te probeer vergeet, want “vergeet” is 'n onwillekeurige proses, sonder intensie of bybedoelings.
Dus: huiswerk. Vergeet van hierdie inskrywing. Sodra jy dit regkry, kom terug en vertel ons daarvan.
(Ek raai “vergeet” tree meer op soos “wees” of “bestaan”, wat eerder 'n toestand as 'n aksie aandui. Dit word egter nie soos laasgenoemdes gebruik nie en pas in elk geval beter saam met naamwoorde soos “mitose” of “kondensasie”, wat op prosesse dui.)