Rock bly 'n kuns. 'n Goeie rocklied saam met 'n goeie musiekvideo is netsoveel werd soos bekroonde literatuur of skilderye in gallerye. Die fout wat mense gereeld maak, is om rockmusiek as 'n laer musiekvorm te beskou deur dit te vergelyk met iets soos 'n simfonie. Myns insiens mis hulle die punt. Nes jy nie 'n gedig en 'n balletvertoning op dieselfde meriete kan beoordeel nie, so kan jy nie rock (wat ontstaan uit 'n unieke sameflansing van tegnologie, konteks, liriek en musiek) oor dieselfde kam as ander musiekvorme skeer nie. En andersom, natuurlik.
Daar is dilettansie daarbuite. Daar is (en sal seker altyd wees) baie onvaardige instrumentaliste wat nie veel meer as powerchords kan speel nie en verwag die gepeupel moet hulle aanbid asof hulle Satch self is. (Van die os op die jas: Satch het 'n nuwe album uitgebring.) Hulle verdien 'n plekkie onder die son. Ook is daar lirici wat steeds geykte temas op geykte maniere omskryf. Selfs hulle verdien 'n plekkie onder die son. Daar is egter dié wat hulle instrumente toenemend bemeester en uitbuit om nuwe klanke te skep, nuwe harmonieë by woorde te voeg en 'n atmosfeer op te tower wat in geen ander genre geskep kan word nie. Hulle verdien meer plek.
Is dit die geval in Afrikaans? Is Afrikaanse rock deurgaans innoverend en relevant? Behalwe vir 'n paar uitsonderings is ek nie so seker hieroor nie. Meer daaroor later. Vir nou, geniet Fightstar: