Wat is in sy oor?

‘n Paar inskrywings gelede het ek melding gemaak van 'n sekere Peter Popoff. Popoff, vir die wat nie weet nie, is 'n televangelis (spel ek dit reg?) wat in die tagtigerjare uitgevang is met bedrog tydens kerkdienste. Hy was bekend daarvoor dat hy “op die inspraak van die Heilige Gees” kerkgangers met skete en kwale op die mees onmoontlike maniere kon identifiseer en hulle sommer daar en dan gesond bid. 'n Tipiese situasie in een van sy eredienste sou rofweg as volg lyk:

Popoff Ek voel…ja…ek voel Jeeeeesus sê vir my dat ‘Ant Santie Pretorius van Wilgerlaan 17 hier in die voorste ry…

‘Ant Santie (aside) Maar…dis dan ek!

Popoff …ly aan hewige hoofpyne en 'n loperige maag…

‘Ant Santie (luidrugtig) Halleluja, dis ekke daai! Dis ekke!

Popoff …wat Jeeeesus vir haar wil genees vanaand!

‘Ant Santie (buite haarself) Dis ek, pastoor Popoff! Hier is ek!

Popoff Ja, daar is sy, nes die Gees my voorgesê het. In ry twee, reg voor die kansel.

‘Ant Santie (huil)

Popoff (Lê ‘Ant Santie die hande op) In die naam van Jeeeeesus beveel ek hierdie hoofpyn en loopmaag en enige ander kwale om te verdwyn. Wyk, Satan! Wyk!

‘Ant Santie (val vlou)

*’n Hipotetiese vertaling

Hoe kon hy immers weet ‘Ant Santie woon in Wilgerlaan 17? Kerkgangers het gewoonlik in verwondering gestaan oor Popoff se direkte telefoonlyn na God. Tot James Randi eendag besef het dis te goed om waar te wees en kon bewys dis toe al die tyd Popoff se vrou wat gebedsversoekkaartjies via radio vir hom voorlees.

Popoff het homself dadelik bankrot verklaar, maar jare daarna weer sy verskyning met dieselfde bedrogspul gemaak. 'n Vinnige loer na sy webtuiste wys dat hy steeds die blye boodskap prostituteer met uiters onverantwoordelike welsynsteologie. En dis hier waar ek begin wonder. Popoff en kie (daar is baie nes hy daarbuite) teer letterlik op mense se emosies en maak staat op manipulasie om aan die lewe te bly. Vir jare nou al. En dit blyk asof dit 'n wêreldwye fenomeen is.

Is daar Suid-Afrikaanse ekwivalente vir Popoff?

As jy aan 'n kerk behoort waar soortgelyke genesingsrites plaasvind, wil ek graag by jou weet (met die grootste respek en uit pure nuuskierigheid):

Dra jou pastoor 'n oorstuk?

This entry was posted in Godsdiens and tagged , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>