Partykeer dink ek kapitalisme maak ons dom.
Verlede naweek was ‘n vriendin se 21ste verjaardag. Ek was effe laat met die geskenk, het nie lekker geweet wat om vir haar te koop nie en dit was boonop 'n vakansiedag. Al wat oop was, was BP, Checkers en 'n Christelike boekwinkel in die Eikestad Mall. Siende dat pasteie nou nie die mees gedenkwaardige geskenke is nie, het ek laasgenoemde betree.
n Verkoopsman, kompleet met 'n “trainee”-wapentjie, het my vriendelik genader en gevra of hy kan help. Ek soek 'n geskenk vir 'n vriendin, sê ek vir hom – sy is een en twintig. Ah, sê-vra hy sommer dadelik, lees sy Joyce Meyer?
Err…
Effens onkundig oor populêre Christelike literatuur het ek gekies om eerder self deur die winkel te soek (veral nadat hy ook 'n boek oor die rol van die vrou as feetjie – met baie wolke en blou lug op die voorblad – aan my bekendgestel het). Na 'n hewige soeksessie (let mooi op daardie adjektief, dis belangrik) het ek besluit op C.S Lewis se “The Problem of Pain”. Terug in my koshuiskamer het ek 'n kaartjie met die woorde: “Vir die kere wat die lewe moeilik raak en die goedkoop selfhelpboeke nie help nie” in die boek gevoeg en dit toegedraai.
Dit was 'n hewige soeksessie, want daar was twee boeke van Lewis in die winkel. Twee. En dit was omtrent die naaste wat dit aan enigiets ingewikkeld gekom het. Ek was effens verstom om te sien wat op die hoofuitstalrakke gepryk het. Choo Thomas. Robin McGraw. Maagdelik wit bo toonbank naby die ingang. In Afrikaans.
Hoekom is hierdie boeke so gewild?
Is dit dan so moeilik om te sien dat Choo Thomas snert praat? Dat Robin McGraw skryf wat middeleeuse priesters jou al honderde jare gelede kon vertel het? Dat die boek met die rol van die vrou as onderdanige klein dogtertjie (I’m not kidding you) pleinweg oneties is? Klaarblyklik is dit, want die boeke is daar omdat hulle verkoop. Hoe meer mense dit koop, hoe meer voorraad word aangekoop. Hoe meer voorraad aangekoop word, hoe meer koop mense. Hoe meer mense koop, hoe meer word die persepsie geskep dat dit baanbrekende literatuur is. En hoe minder word Lewis gedruk.
Dalk moet ek hulle die voordeel van die twyfel gee. Miskien is die wegraping regtig in 2007.